skip to Main Content
Wi-Fi Etiket: Wat Is Goeie Maniere?

Tannie Emsie Schoeman en Nataniël het baie gedoen as Suid-Afrika se etiketkenners, maar by BELLA is ons seker jou kinders het nog baie maniere om te leer – veral in die tech-sfeer!

Selfone en tablets het ons wêreld op sy kop gekeer – en dinge beweeg so vinnig dat ons nie altyd kan byhou met die nuutste apps, sosiale media en tech-lingo nie. Maar een ding wat bly staan – selfs in ’n chaotiese samelewing – is goeie maniere. ’n Kind met slegte (of wankelrige maniere) staan uit soos ’n seer oog – want hy bederf almal om hom se dag/fliek/restaurant ervaring.

Kom ons begin by die begin: Data in Suid-Afrika is peperduur in vergelyking met ander lande. Ons is almal heilig op ons data en deel dit nie graag sommer verniet uit nie. Nou hoe gemaak as mense by jou kom kuier en hul kinders gebruik al jou WiFi? Of andersom (as jy jou kinders nie van WiFi-etiket geleer het nie?) The horror!

Kenners bespiegel al ’n ruk oor hoe mens dié tameletjie kan oplos en BELLA het ook gaan ondersoek instel. Leer jou kinders só WiFi en elektroniese media-etiket (en jy kan dié lysie sommer aanstuur vir daai vriendin wie se kinders altyd jou WiFi-data opgebruik):

  • Dit word as ongeskik beskou om dadelik te vra wat iemand se WiFi wagwoord is. As hul dit aanbied, vra altyd of daar ’n limiet is vir jou gebruik.
  • Apps en speletjies moet sonder klank gebruik word (of met oorfone aan).
  • Tablets en fone moet weggesit/weggevat kan word sonder ’n tantrum.
  • Leer jou kind van kleins af dat WiFi nie oral beskikbaar is nie, en selfs al is dit, is dit nie noodwendig verniet of vir hul gebruik nie.
  • Minder is altyd meer: hulle moet nie apps aflaai of groot video’s kyk op ander mense se WiFi nie.

Dit kom eintlik op ’n basiese vlak terug na goeie maniere – moenie langer bly as wat jy welkom is nie, sê asseblief en dankie en vra altyd mooi vir die wagwoord. Sien – dis mos nou glad nie so moeilik nie!

Back To Top
%d bloggers like this: