skip to Main Content
Dierevriendelike Hiking Spots In S.A.

Trek jou tekkies aan, gryp die leiband en neem vir Wollie op ’n avontuur!

Na ’n week vol van 9-5’e, rekenaarskerms en rustelose bene wat na hoogtes smag is ’n hike vir jou en jou hond die beste medisyne!

Gereelde staptogte sal Snippie minder laat kêf, kou en knor.

Alle honde is stap-gereed, maar Mollie Maltees gaan dalk (definitief) nie so vreeslik opgewonde wees oor ’n 8 kilometer roete oor berge en dale nie.

Die beste ras vir avontuurlustige buitelewe-dinge is Border Collies, Australian Shepherds, Rifrûe, Labradors, Pointers en Beeshonde.

 

Onthou, jou puppy kan nie ver stap nie en jy moet hom nie ooreis nie. Roetes wat spronge vereis is ook nie goed vir die jongklomp se ontwikkelende bene nie.

Handige raad:

  1. Sommige staproetes vereis nie leibande nie. Maak seker dat jou dier ’n naamplaatjie dra en ’n microchip in het (vir ingeval hulle die vryheid kop toe vat.)
  2. Waar jou hond in kontak kom met die natuur en ander honde is die kans vir ongediertes groter. Maak seker jou hond is gepantser teen vlooie en bosluise.
  3. Verseker dat jou hond ’n hondsdolheidsinpsuiting kry – daar is goed wat kan byt in die bos.
  4. Dra skoon water saam en kyk dat jou hond nie water drink uit stagnante poele nie.
  5. Hou noodhulpbenodigdhede byderhand!

Nou… vir die lekkerste hiking spots in Suid-Afrika:

  1. Magaliesburg: Kranskloof. Stap deur vlaktes en koel af in die eeue-oue kloof. Die water onder in die kloof is suiwer en kristalhelder skoon. Pak ’n piekniekmandjie en gaan swem.
  2. Port Elizabeth: Schoenmakerskop Duine. Die Sacramento staproete slinger 8 kilometer teen die kus af en beslaan ongeveer 3 ure.
  3. Houtbaai: Blackburn Ravine. Geniet 4km, saam met jou hondjie – leibandloos!
  4. Pretoria: Faerie Glen Natuurreservaat. Spesiaal vir die stadsjapies. Let wel: Woefkind gaan ’n permit nodig hê voor hy die reservaat kan benut.
  5. Pretoria: Hedianga Plaas. Reis na Olympus en gaan trippel rond in die koppies van Hedianga Plaas.
  6. Johannesburg: The Wilds. Tussen Houghton, Killarney en Parktown pronk ’n pragplek waar jou dier ’n hele paar maatjies kan ontmoet (en lekker sterte snif!)
  7. Newlands: Newlands Woud. Gun Grietjie die geleentheid om haar innerlike wolf te ontdek en die woud van hoek tot kant te ondersoek.
  8. Kaapstad: Tafelberg Nasionale Park. Permitte is wel nodig, so jul moet vooruit bel.

Daar het jy dit! Pak gerus die avontuur saam jou diertjie aan! Dis beslis beter as om tone te tel by die huis?

 

Back To Top
%d bloggers like this: