skip to Main Content
Schalk Bezuidenhout: Neem Die Kuns In

Stop! Ruik daai roos. Rewind daai drie. En om hemelsnaam raam daai Pricasso!

Pop art. Een van die mees ikoniese kunsstyle van ons tyd. En mees toeganklik. Enige leek kan pop art identifiseer. Selfs jou komminste omie in Kraaifontein kan daai kleurvolle gesigte van Marilyn Monroe sien en dit identifiseer as “een van daai pôp aard goeters.”

En as ek sê ‘leek’ en ‘kommim’ sluit ek myself in. Ek was al by die Tate Modern in Londen. Dis nou die museum vir moderne kuns. Wel, so sê hulle. Kuns is relatief. Is kuns dit wat inne die museum is? Of miskien buite by ’n koskaravaantjie? Vir my is die cheap hotdog wat die Britste tannie uit die mees basiese bestanddele en toerusting gemaak het kuns. Beste hotdog van my lewe. Ek weet nie wat daarin was nie en ek sal ook nooit weet nie. Dít sal Warmbrak Wendy sekerlik na haar graf toe neem. Ek dink elke dag aan daardie hotdog. Dit bly vir my ’n raaisel. Sien? Kuns.

Die einste oorspronklike weergawe van Andy Warhol se Marilyn gesigte het daar gehang en laat ek jou sê… Dit was maar die enigste ding in dié massiewe gebou daardie dag wat ek kon verteer. Nie eers die hotdog nie. Dit was heerlik, maar moeilik verteerbaar. Die res van die “kuns” daarbinne was weird goed soos ’n enkele stuk tou wat van die plafon af hang of ’n drol op ’n podium. Daar was letterlik, I kid you not, ’n canvas wat net wit was. Niks. Die plaatjie langs dit het verduidelik dat die kunstenaar wou hê die kyker moet sy eie kunswerk daarop verbeel. Mense het hulself verkyk aan dié ding. Ek het net gedink dis blêrrie lui.

Dis juis die lekker ding van kuns – dis subjektief. Daar is ’n ou wat die wêreld vol toer onder die naam, Pricasso. Soos die naam suggereer neem hy sy kuns na plekke, soos Sexpo, waar hy vir jou ’n prentjie kan verf deur slegs sy penis as verfkwas te gebruik. Daar is mense wat goeie geld sal betaal om ’n egte Pricasso portret bo hulle bed te kan hang.

Vir my is ’n goeie joke, deur ’n stand-up comedian, ’n kunswerk. Die ritme daarvan. Hoe elke pouse net so baie bydra soos die woorde. Hoe elke woord spesifiek gekies is om elke sin op te maak. Hoe elke gebaar oor en oor voor ’n gehoor geoefen is totdat dit dit wat gesê word perfek komplimenteer. Vir iemand anders is ’n goeie drie deur ’n Springbokspeler ’n vorm van kuns. Hoe hy net voor die bal die grond raak vir ’n sekonde of twee soos ’n voël in vrye vlug bo die groen gras sweef. Vir ander mense is kuns ’n ou wat bietjie turquoise op sy tollie sit en ’n prentjie teken.

Wat jy dalk as kuns sien, onthou om volgende keer ’n bietjie te stop en neem dit net in. Daar is soveel haat en kwaad in ons wêreld dat ons nie kan bekostig om die kuns mis te kyk nie. Rewind daai drie. Ruik daai roos. En om hemelsnaam, raam daai Pricasso! Wie weet… Dalk rys hy in waarde oor tyd?

Back To Top
%d bloggers like this: