skip to Main Content
Schalk Bezuidenhout: Lief Vir Die Concrete Jungle Op Eie Bodem

In New York,
Concrete jungle where dreams are made of
There’s nothin’ you can’t do
Now you’re in New York
These streets will make you feel brand new
Big lights will inspire you
Let’s hear it for New York, New York, New York

Gewoonlik as ek “concrete jungle” hoor dink ek aan hierdie liedjie – Empire State of Mind van Jay-Z. Google bietjie dié liedjie. Ek belowe jou, jou ore gaan nie afval nie.

In my bedryf is New York die ultimate. Om ‘n akteur of komediant in New York te wees is dit waaroor almal dagdroom. Akteurs oefen hulle Oscar speeches voor die spieël en beskryf hoe crucial die skuif van Suid-Afrika na die ‘Big Apple’ was, concrete jungle where dreams are made of… Totdat hulle ma inbars en skree dat die vleis reg is.

Elke beroep het hulle eie New York. ’n Modeontwerper, byvoorbeeld, wil dalk net Parys toe gaan. Parys, Frankryk natuurlik. Parys, Vrystaat het nie nog modeontwerpers nodig nie. Daar is reeds genoeg rokke en handsakke met windpompe op.

“…vir ure lank in die stort staan en almal, van my ouers tot my Graad 1 juffrou, voor ’n denkbeeldige skare bedank.”

Ek was een van daai Oscar speech kindertjies. In my tuisdorp van Kempton Park sou ek vir ure lank in die stort staan en almal, van my ouers tot my Graad 1 juffrou, voor ’n denkbeeldige skare bedank. Ook ’n helse mors van water. Ek sou daar staan en in gebroke Engels dankie sê vir die geleentheid om daardie karakter te kon speel. Elke dag was dit ’n ander een.

Vandag voel ek anders. Ek sal beslis nie omgee om eendag ’n Oscar te wen nie, maar ek heg nie meer soveel waarde aan concrete jungles ver oor die oseaan nie. Ek het ’n nuwe liefde vir my land en sy mense. Ek is tans op ’n punt waar ek al hoe meer internasionaal optree en wil aanhou om so te maak. Die ironie van die saak is dat dit juis as gevolg van al die reis (en rys) is wat my in so ’n patriotiese Suid-Afrikaner verander het. Ek kan dit nie vat wanneer mense neerhalend van ons land praat nie. Sommige van ons liewe landsburgers is mos lief daarvoor om na ons paspoort te verwys as’n ‘groen mamba’ – wat in iedergeval nonsens is, want ek was nou juis oor Desember in die Filipyne sonder ‘n visa. Al groen mambas wat ek sien is die slange wat vir die Adams en Evas van Suid-Afrika wil oorreed om saam te vlug Australië toe.

Ek is nou 26 jaar oud en opgewonde oor my toekoms. En jy wat nou hierdie lees behoort ook te wees! Oor jou eie toekoms… Ek is darem nie so arrogant dat ek sal verwag jy moet opgewonde oor my toekoms wees nie. Ons weet nie wat voorlê nie en dit is juis wat die lewe so opwindend maak! Miskien trek ons oorsee omdat omstandighede dit vereis. Miskien jaag ons politici nog so aan dat ons nie die land kán verlaat nie al wil ons. Miskien tree ek eendag af in New York. Of miskien tree ek eendag af in Kempton Park.

 

Back To Top
%d bloggers like this: