skip to Main Content
Matrieks: Toe Jy Nog Jonk En Single Was

“Liefie, jy spandeer nie genoeg tyd saam met my nie.”
“Hoekom hou jy meer van jou biologie handboek as van my?”
“Leer jy alwéér vanaand rekeningkunde?”

Soos jou gedagtes nou bollemakiesie slaan oor alles waarmee jy net nie kan deal nie, spring jou laaste lewende breinsel op en af en skree: “Jaaa!” Want ongelukkig wag die aarde nie vir jou om jou “to-do list” vir die dag af te merk voor hy sy daaglikse omwenteling voltooi nie. Die lewe gaan aan, met of sonder ’n ou.

Gelukkig leef ons in die moderne era en nie meer in Koningin Elizabeth I se tyd nie. Het ons as matriekmeisies of studente in elk geval tyd vir iemand wat elke sekonde van die dag soos ’n skoothondjie agter ons aanloop? Een ding waarvan ek wel seker is: daar is elke dag iemand wie se oë die vorige dag nog hartjies geskiet het, wat vandag dikbek in die skoolgang afstorm.

’n Klein stemmetjie binne my herinner my gedurig dat alle goeie dinge met tyd kom. Die spesiaalste maatjie van jou lewe gaan nog eendag met ’n skaam glimlaggie per ongeluk vir een sekonde te lank met jou oogkontak maak. Maar vir eers kan jy die dae van sorgelose sleepovers geniet en saam met die girls romcoms kyk. Geniet dit om te gaan slaap wanneer jy
wil en die hele dag in jou nagklere te spandeer. Geniet dit om kliphard in die stort te sing (of dalk te miaau soos ’n kat) met die wete dat niemand minder van jou gaan dink nie.

En die belangrikste: geniet dit om jouself te wees en elke dag voluit te leef. Een van die dae gaan jy trou, kinders kry en ’n ouma word. Wanneer jy dan bewend op jou sterfbed lê gaan jy terugdink aan dié tyd. Toe jy 18 was en die wêreld aan jou voete gehad het. Jou hart moet ’n laaste klop van blydskap gee oor al die ongelooflike dinge wat jy aangepak het toe jy eendag lank, lank gelede nog jonk en single was.

 

Geskryf deur Kayla Lourens van Hoërskool Durbanville

Back To Top
%d bloggers like this: