skip to Main Content
Matrieks: Aanpassing; Die Wenresep Tot Oorlewing

Die eerste dag van my matriekjaar was ’n lang en uitmergelende dag. Nog voordat die klok vir “huis-toe-gaan-tyd” kon lui, het dit al gevoel asof twee treine én ’n trok bo-oor my is!

Matriek – die begin van die einde. Jou laaste eerste dag van skool, jou laaste eerste toets van die jaar en voor jy jou oë kan uitvee, is die jaar dan seker ook al verby, drie eksamens en al.

Die oorgang na matriek bly maar altyd ’n uitdaging, of jy nou uiters onaanpasbaar of die aanpasbaarheid self is. Ek deel graag my eie wenresep oor hoe om suksesvol deur jou matriekjaar te gly.

  1. Wees voorbereid. Eerstens vir die aanpassing by nuwe onderwysers, nuwe werk en groter hoeveelhede werk. Tweedens vir elke klas. Doen maar jou huiswerk en doen dit betyds.
  2. Sien die aanpassing as positief en werk met ywer. Jy kry immers net een kans om hierdie jaar suksesvol af te handel.
  3. Hou by sperdatums en probeer take so gou as moontlik afhandel. Dit sal beslis spanningsvlakke tot ’n minimum hou.
  4. Moenie net akademies verkeer nie; kry ’n stokperdjie wat jou van al jou matrieksorge sal laat vergeet.
  5. VRA, VRA en hou aan VRA! Wanneer jy onseker is oor enigiets, moet jy so gou as moontlik duidelikheid daaroor kry.

Laastens, maar nie die minste nie, beloon jouself op welke wyse sodra jy ’n mylpaal bereik het, al is dit net met die liplekkerste roomys in die dorp.

Matriek is nie vir sissies nie, maar moenie toelaat dat dit jou onderkry nie. Pas aan en oorleef!

 

Geskryf deur Karli Steyn van Potchefstroom Gimnasium

Back To Top
%d bloggers like this: