skip to Main Content
Laat Die Sweetkliere Juig

Hitte bring oor die algemeen nie die beste eienskappe in mense uit nie.

Uit persoonlike ervaring kan ek hierdie deel, aangesien ek een van daardie mense is wat juis spontaan van gemoed verander sodra die temperatuur bo 25 grade gaan.

Waarom mense iets soos Bikram joga uit eie wil sal aanpak gaan my verstand te bowe, want weereens, hitte. Nie net kan hitte mens se persoonlikheid verander nie, maar ook wat jou liggaam doen. Ons almal het al op ʼn warm dag in die spieël gekyk en gewonder hoekom jou onderarm besig is om te huil. Nou daar is baie vloeistowwe wat uit jou liggaam uit kom, maar vir een of ander rede is die een wat mense die meeste oordeel sweet.

Hoekom is dit juis so? Is hierdie nie net ʼn natuurlike funksie wat jou liggaam uitvoer om bloot jou temperatuur te reguleer nie? Dit is eintlik vreeslik interessant dat jou brein sê: “Luister vriende, hierdie huis waarin ons bly kry warm en ons moet dringend iets daaraan doen.” En boom, sweet!

Ek wonder wie het eendag na hulself gekyk, die sweetkolle op hulle hemp gesien en besluit nee, hieroor moet ek skaam voel en ander veroordeel. Moenie eers dat ek begin praat van die ekstreme “oplossings” wat mense probeer om hulle sweet te verminder nie. Van botox inspuit tot pille drink. Daardie vloeistof moet iewers heen gaan hoor… Ek is seker ons almal het ten minste twee deodorantbotteltjies in ons handsakke of karre wat gereed is om die eerste gevoel van sweet aan te val. Soms voel dit vir my of selfs die mense by die gym nie voluit wil gaan nie, omdat hulle bang is vir sweet en die veroordeling wat daarmee gepaard gaan. Nee wat, ek het besluit dat my liggaam se natuurlike funksies nie meer iets is om oor skaam te voel nie. As dit wil sweet, dan gaan dit sweet, want veroordeling hieroor moet ek (en jy) nie meer duld nie!

 

Rubriek geskryf deur Mariëtte Sorgdrager.

Back To Top
%d bloggers like this: