skip to Main Content
Dis Lekker In Die SLOW Lounge

Ontspan in die SLOW Lounge, of nie?

“serenity.” Alles kleinletters.

Dit is die wifi password in die SLOW Lounge op O.R. Tambo vandag. Dis altyd iets ontspannend –“serenity”, “relax”, “peaceful”.

Die ironie is dat die SLOW Lounge altyd vir my alles behalwe ontspannend is. Dis besigheidsmanne wat syfers in ’n iPhone in skree. Dis senuweeagtige tannies wat kalmeerpille met hulle sjampanje afsluk. Dis vet privaatskoolseuntjies met groot oorfone (soos ek hier sit is ’n pokkel besig om sy derde mini quiche heel in te sluk.)

Die gewone reëls van ons samelewing geld ook glad nie in die SLOW Lounge nie. Dis soos die Wilde Weste, maar die perde is letterlik net mense met lang gesigte. Dis byvoorbeeld heeltemal aanvaarbaar om ’n trippel gin & tonic tienuur die oggend te drink. Die SLOW Lounge se leuse is: “SLOW Lounge: the lounge for extremely busy people.” Ek dink hulle moet dit verander na: “Dis die SLOW Lounge mense! Kom ons f*kken duik!”

View this post on Instagram

Enjoy this airport joke.

A post shared by Schalk Bezuidenhout (@schalkiebez) on

Maar ten spyte van al hierdie is die SLOW Lounge darem maar die plek om te wees hoor. As jy nie in die SLOW Lounge is nie, is jy deel van die algemene gespuis wat maar by Mugg & Bean moet sit en een van daai massive muffins moet deel tussen ’n groep van 48. Daai muffins laat my dink aan die wonderwerk in die Bybel waar die mense die brode en die vissies eet, maar dit raak nooit op nie. Ek het ’n Mugg & Bean muffin in my kas waaraan ek vir al 9 jaar lank peusel.

Die mensdom is tog ook maar soos die samestelling aandui: mens = dom. Ons is met niks tevrede nie! Laat daai koeskoes slaai nou opraak dan is daar groot marakkas. Laat daai pinot noir nou nie kamertemperatuur wees nie… HKGK!

Ek het al gesels met die bemarkingsbestuurder van al die SLOW Lounges en haar gekomplimenteer op hulle puik diens. Dis miskien maar net die goeie Afrikanerseun in my, maar ek is blêrrie dankbaar vir enigiets wat verniet is. As ek lekker diep asemhaal sê ek vir moedernatuur dankie vir die gratis suurstof! Dié vroutjie het egter moeg gelyk. Nie moeg soos in te laat gekuier die aand tevore nie. Lewensmoeg. Soos een van daai ou honde wat blaf, maar geen klank kom uit nie. Ek vra haar toe wat fout is. “Nee,” sê sy. “Ons moet die SLOW Lounge by Lanseria opknap, want dié het nie sy eie badkamer nie. Die mense kla dat hulle die publieke toilette in die lughawe moet gebruik.” Kan jy dit glo? Daar is ’n buffet van kosse wat jy nog nooit eers in jou hele lewe van gehoor het nie: “quinoa bread with Japanese squidpoephol filling.” Daar is elke liewe soort wyn, bier, whiskey en gin wat jy kan imagine. Maar hokaai stop die lorrie! Ek moet gaan sit op dieselfde toiletsitplek as iemand in ’n laer tax bracket as ek?

Soms voel ek dat daar net nie hoop vir die mensdom is nie. Vir elke goeie samaritaan wat R2 vir ’n bedelaar gee is daar tien tannies wat kla oor te veel skuim in haar cuppaccino.

Die mense in die SLOW Lounge (ek sluit myself in) kan maar so fancy wees soos wat hulle wil. Die mense daaronder – die mense wat geduldig in die ry staan en wag. Die mense wat slaap op die klipharde bankies. Die mense wat te veel betaal vir ’n waterige koppie koffie. Daai is die sout van die aarde.

Al wat ek weet is: dis lekker in die SLOW Lounge.

 

Rubriek geskryf deur Schalk Bezuidenhout

Back To Top
%d bloggers like this: