skip to Main Content
Kom Oor Jou Swembroek Vrees

“Everybody can rock a bikini, swimsuit, unicorn onesie… whatever floats your boat. If you wear it with confidence, you will look hot.” – Iskra Lawrence

Baie van ons skrik as ons die woord swembroek hoor en dink dadelik aan daai itsy bitsy teenie weenie yellow polka-dot bikini wat nou al jou winter sondes gaan blootstel vir die wêreld. Maar wat as jy nie hoef bang te wees vir die swembroek soektog wat jou ’n angsaanval gee as jy daaraan dink nie?

Rome is nie in ’n dag gebou nie

Dis belangrik om te onthou dat jou liggaam nou net uit haar winterslaap wakker geword het. Jou vel is heel moontlik ’n skakering ligter as voor die winter en smag na ’n bietjie vitamien D. Voor jy eers daaraan dink om die winkels in te vaar en swembroeke aan te pas, gee jou liggaam some much needed TLC. Smeer lekker baie room aan jou vel, geniet die son of gaan vir ’n spray tan as jy dit verkies. Die punt is om jouself te versorg en gesond te voel in jou vel.

Die soektog

Eerstens moet jy ophou om jouself sleg te sê in die spieël. Lees gerus hier hoe om jouself te aanvaar. Wees in ’n goeie bui en moenie gedruk wees vir tyd nie. Maak seker jy gaan na ’n winkelsentrum met baie opsies. Dit is waar dat sekere swembroeke beter lyk aan sekere liggaamstipes – so ken jou lyf. Maak jouself bietjie mooi vir die soektog sodat jy op jou beste voel. ’n Positiewe houding gee positiewe reaksies.

Dis net ’n nommer

Vergeet van die nommer op die etiket. Dit is meer belangrik dat die swembroek gemaklik en mooi aan jou lyf sit as om die kleinste nommer te vat. Niemand gaan in elk geval weet watter grootte jy dra nie, maar eerder sien dat jy gemaklik is met wat jy aan het. Moenie bang wees om verskillende style aan te pas nie. Jy dra seker al dieselfde styl vir jare en het nou maar net besluit swembroeke is nie vir jou nie. Vat die tyd en probeer iets nuut, sommer alles wat op die rak hang. As dit nie werk nie dan aanvaar jy dit en beweeg aan. Jy mag dalk jouself verbaas.

Dis ’n gewoonte

Die geheim is om jou swembroek jou nuwe onderklere te maak. Begin sommer nou al en dra dit elke dag as jy by die huis kom. Om gemaklik te wees in jou swembroek het niks te doen met die skaal nie, maar eerder hoe gewoond jy daaraan is. Practice makes perfect, soos met meeste dinge in die lewe.

’n Swembroek is nie iets om voor skaam te wees nie. Dit was ook nie gemaak om jou sleg te laat voel oor jouself nie. Aanvaar jouself en jou swembroek sal saam werk.

 

Geskryf deur: Bianca Raath
Foto’s: Shutterstock

Back To Top
%d bloggers like this: