skip to Main Content
Hoe Gemaak Met Anti-depressante Tydens Swangerskap?

Vroue wat medikasie gebruik vir angs, depressie, of ander gemoedsversteurings is tradisioneel aangemoedig om daarmee te stop indien hulle swanger wil raak. 

Daar is nuwe menings wat gesels oor die moontlikheid dat die tipe medikasie nie noodwendig só sleg is tydens swangerskap nie. BELLA het bietjie dieper gaan delf.

Die heel belangrikste wenk:

Moet onder geen omstandighede sommer net self besluit jy wil skielik stop met jou medikasie nie. Maak ’n afspraak met jou dokter om te bespreek hoe julle jou emosionele gesondheid kan bestuur tydens die swangerskap. Onthou, die keuses wat jy nou maak het ’n effek op jou én jou ongebore baba. Moet jou nie blindstaar teen die newe-effekte van die medikasie nie. Hou liewer ook ingedagte hoe belangrik dit is dat jy kyk na jou eie gemoedstoestand.

Volgens Dr. Lavinia Lumu, ’n spesialis psigiater wat praktiseer by die Akeso Randburg-Crecent Kliniek, is daar meer en meer studies wat bewys dat sommige tipe medikasie relatief veilig is om te gebruik tydens swangerskap. Sy verduidelik ook dat dit soms meer skade kan doen om net skielik met jou medikasie te stop sonder dat jy dit met jou psigiater en ginekoloog bespreek. Nuwe navorsing bewys dat onbehandelde angs en depressie ’n oormaat produksie van kortisol, ’n streshormoon in die ma se liggaam, veroorsaak. Dit kan dan ’n negatiewe effek hê op die baba se brein-ontwikkeling.

So wat sê ons nou eintlik?

Of jy nou beplan om swanger te raak en of jy reeds swanger is, maak so gou as moontlik ’n afspraak met jou psigiater en ginekoloog. Elke persoon én elke geval is uniek, doen soveel as moontlik navrae en doen navorsing oor jou unieke situasie voordat jy besluit of jy gaan volhou of ophou met jou medikasie.

Back To Top
%d bloggers like this: