skip to Main Content
Watter Een Is Die Beste Vir Jou: Mediese Fonds Of Mediese Versekering?

Het jy geweet daar is ’n verskil tussen mediese fonds en mediese versekering. En dat jy dalk net een (en nie altwee) nodig het nie?

Die een is duurder as die ander, maar kom ons gaan kyk presies wát is die verskille en of dit ooit met mekaar vergelykbaar is?

Mediese fonds:

  • Moet voldoen aan die regulasies en dekking voorsien in ooreenstemming met die Medical Schemes Act
  • Voorsien dekking vir die voorgeskrewe minimum voordele.
  • Voorsien dekking vir jou dag-tot-dag mediese uitgawes: soos doktersbesoeke en medikasie.
  • Betalings word vanaf die fonds direk aan die hospitaal of diensverskaffer gemaak – as jy self betaal moet jy terugeis.
  • Die fonds het gewoonlik verskillende opsies beskikbaar, soos ’n hospitaalplan of ’n spaarplan.

Mediese versekering:

  • Kan uitgeneem word as ’n alleenstaande versekeringsproduk.
  • Kan ook uitgeneem word as gap cover om die mediese kostes wat nie deur jou fonds gedek word nie, te betaal.
  • Betaal jou direk, nie die diensverskaffer nie. Dit beteken jy sal alle rekeninge en ekstra kostes uit jou eie sak moet betaal.
  • Betaal ’n vasgestelde bedrag uit soos ooreengekom, byvoorbeeld per elke hospitaalbesoek of prosedure.
  • Bied baie beperkte of selfs geen dekking vir dag-tot-dag mediese uitgawes.
  • Hoef nie te voldoen aan die regulasies asook dekking te voorsien in ooreenstemming met die Medical Schemes Act nie.

Foto: Shutterstock

Is dit vergelykbaar?

Jy sal sien dat dit nogal onregverdig is om die twee produkte direk met mekaar vergelyk. Alhoewel hulle mekaar baie goed aanvul kan die een ook sonder die ander uitgeneem word.

So, watter een is reg vir jou?

As jy nog jonk en gesond is,’n lekker volronde spaarvarkie het en nie kroniese medikasie gebruik nie, kan jy dit oorweeg om net mediese versekering uit te neem. Dit beteken dan jy sal jou tandarts, oogkundige en enige doktersbesoeke self moet betaal vanuit jou spekvet spaarvarkie. Maar as jy bietjie ouer is, ’n gesin het, kroniese medikasie gebruik, bril dra, gereeld tandarts besoek, of dalk net gereeld siek word, moet jy maar ’n mediese fonds
uitneem. As jy weet jy het nie baie mediese onkostes nie, maar jy wil steeds veilig wees, kan jy dalk ’n mediese plan uitneem wat net hospitaaldekking bied. Dit sal jou bietjie geld spaar.

Dink mooi…

Mediese versekering alleen lyk dalk goedkoper, maar maak jou sommetjies noukeurig. Maak seker jy weet wat is die pryse van daaglikse mediese behoeftes en dokters, kyk dan of jou kontantvloei of spaargeld genoeg is om jou van ’n mediese fonds te vrywaar. Jy kan wel oorweg om jou huidige mediese fonds aan te vul met mediese versekering. Praat met mense wat weet, soos jou finansiële adviseur of mense wat self al ’n paar lesse geleer het.

 

Bron: Lyndsay Van Der Berg 

Back To Top
%d bloggers like this: