skip to Main Content
Sal Oefening My Borsmelk Beïnvloed?

Jy wonder dalk hoe jy jou oefenroetine gaan bestuur saam met borsvoeding en of jou oefensessies jou meklproduksie sal beïnvloed?

Kom ons spring reguit in en kyk na die feite rondom die onderwerp waaroor so baie mammas wonder.

Is dit veilig om te oefen in die maande wat ek borsvoed?

Ja, verseker! Tydens swangerskap en borsvoeding kan mens se beendigtheid verlaag weens die baba se behoefte aan kalsium. Jou liggaam voorsien die baba van kalsium en as jy ’n oefenprogram volg wat nie net kardio, maar ook weerstand oefeninge, insluit sal dit bydra tot die versterking en verbetering van jou eie beendigtheid. Oefening sorg ook vir die endorphin rush wat baie voordelig is vir jou gemoed tydens swangerskap en al die gemoedskommelinge wat daarmee saamgaan.

Sal oefening my melkproduksie beïnvloed?

In kort, nee. As jy ’n oefenprogram volg met gemiddelde intensiteit sal dit nie ’n negatiewe effek hê nie. Inteendeel, sommige vroue bevind dat oefening voordelig is vir hulle melkproduksie deurdat dit verhoog word. Dit is as gevolg van die endorfiene wat vrygestel word wat dan ’n direkte invloed het op die produksie van Prolactin -’n hormoon wat verantwoordelik is vir melkproduksie.

Top wenk: Probeer voed vóór jou oefensessie.

As jy voed voor jou oefensessie dan het jy die gerusstelling dat jou baba rustiger sal wees terwyl jy besig is en jou borste sal ook ligter voel. Dit sal jou oefensessie baie gemakliker maak. Maak ook seker jy koop ’n goeie kwaliteit, ondersteunende sportbra wat jou borste sal ondersteun tydens oefening. Kies ’n bra wat ontwerp is vir high impact – selfs al doen jy net ligte oefeninge.

Ekstra wenke:

  • Maak seker jy stort na jou oefensessie voordat jy weer voed. As jy die baba dadelik voed na die oefensessie sal daar ’n sweterige smaak op die vel rondom jou tepels wees. Jou baba kan dalk vol fiemies wees en dan weier om te drink.
  • Trek direk na jou sessie dadelik jou sportsbra uit. Dit sal verligting bring en verstopte kliere verhoed.
  • Moenie te hard wees op jouself nie. As vandag te besig is vir oefening kan jy onthou dat môre weer ’n nuwe dag is. Daar sál weer tyd wees.

 

Bron: Annéke da Silva – GlowFit Training

Back To Top
%d bloggers like this: