skip to Main Content
Iemand Na Aan My Is Depressief, Wat Nou?

Só help jy ʼn depressiewe geliefde sonder om self die blues te kry.

Die angstigheid, magteloosheid, slapeloosheid, en konstante moegheid is maar net ʼn paar battles wat ʼn depressielyer elke dag moet veg. ’n Misgekykde realiteit is egter dat die een wat haar probeer bystaan self baie van hierdie simptome kan ervaar.

Ons samelewing het al baie vordering gemaak in die manier hoe ons mense met depressie behandel en ondersteun. Maar moenie vergeet dat, as ’n belangrike deel van hul ondersteuningsisteem, jy nie net ʼn verantwoordelikheid teenoor hulle het nie, maar ook teenoor jouself.

Doen dit:

  1. Jy kan nie gee wat jy nie het nie. Maak seker dat jy gedurende die tyd fisies, emosioneel en geestelik na jouself kyk.
  2. Vermy die versoeking om aanhoudend oplossings na te vors en aan die persoon voor te lê. Nie net kan dit irriterend wees nie, dit kan onnodige angs vir jul albei veroorsaak. Gewoonlik lê die uitdaging vir die pasiënt nie daarin om ʼn oplossing te kry nie, maar eerder om gemotiveerd genoeg te wees om dit toe te pas.
  3. Moenie heeltyd iets probeer maak van die omstandighede of die oorsaak probeer identifiseer nie. Luister net sonder kritiek en veroordeling.
  4. Indien julle ʼn geestelike grondslag het, vra die Skepper vir wysheid oor die pad vorentoe, en bid saam vir jou geliefde.
  5. Wees beskikbaar en teenwoordig. ʼn Koppie tee of ’n fliek op die bank skep ’n helende atmosfeer van konneksie en nabyheid.

Dit is dalk ’n goeie idee om ’n gekwalifiseerde dokter of terapeut te raadpleeg in hierdie moeilike tye. Kies iemand met wie se waardes julle saamstem en waaroor julle vrede het. Vir meer ondersteuning en inligting besoek gerus sadag.org of kellybroganmd.com.

Back To Top
%d bloggers like this: