skip to Main Content
Vier Vrouemaand Met Dié Fliek

Augtusmaand is sinoniem met vroue – so hoekom vier jy nie die maand met die lewensverhaal van die skrywer, Mary Shelly in die rolprent, Mary Shelly nie?

Mary Shelly is ’n biografiese film oor Frankenstein se skrywer deur regisseur Haifaa Al Mansour. Die film poog om sin te maak van Shelley se merkwaardige wilde lewe, terwyl dit die reis wat gelei het tot die skepping van een van die mees onuitwisbare fiktiewe kreature van alle tye, uitlig. Die film beeld die vasberadenheid van ’n vroulike protagonis uit om ’n doelwit te bereik wat haar onafhanklikheid bevestig. Al Mansour verduidelik waarom sy die film aangepak het: “Ek het gevoel Mary Shelley verdien erkenning. As vroue moet ons figure soos sy vier, want hulle bied ’n soliede erfenis waarop ons kan steun terwyl ons vorentoe beweeg. Ek het onmiddellik gevoel dat ek haar storie moes vertel.”

Mary (Elle Fanning) is voor haar tyd gebore en, ná die dood van haar ma, word sy deur haar pa, filosoof, skrywer en uitgewer, William Godwin (Stephen Dillane), grootgemaak om buite die boks te dink. Hy stuur haar na Skotland, waar ’n naïewe Mary die swierige digter, Percy Shelley (Douglas Booth), ontmoet. So begin ’n boheemse liefdesverhouding. Die belaaide verhouding – gekenmerk deur passie, persoonlike tragedie, verlies en verraad – is die hoeksteen van die draaiboek. Mary skryf aanmekaar oor haar hartseer en vreugde. Geïnspireer deur ’n spookstoriekompetisie op ’n reënerige dag by die Geneva-landgoed van Lord Byron (Tom Sturridge), kanaliseer sy hierdie emosies om een van die Engelse literatuur se fynste werke te skep. Die sterbelaaide film sluit in Bel Powley as Claire Clairmont, voormalige EastEnders-akteur Ben Hardy as John William Polidori, Game of Thrones-ster
Maisie Williams as Isabel Baxter, en Downton Abbey se Joanne Froggatt as Mary Jane Clairmont.

Mary Shelley is 3 Augustus 2018 landswyd in teaters.

 

Geskryf deur: Melanie Jacobs
Foto: Verskaf

Back To Top
%d bloggers like this: