skip to Main Content
Pret By Die Monument: Jacaranda Day

Dit is die grootste onafhanklike radiostasie in Gauteng, Jacaranda FM se 7de bestaansjaar van die gewilde Jacaranda Day.

Oor die heuwel maak die Voortrekker Monument sy asemrowende verskyning en vriendelike gesigte by wapperende pers vlaggies wys rigting aan. Jy voel dit voordat jy dit sien, maar jy weet – dis hier.

Jaarliks stroom duisende mense regoor Gauteng en naburige provinsies na hierdie groot vermaaklikheidsdag. Binne die Monument Amfiteater is ’n see van laggende gesigte. Die atmosfeer is elektries van opgewondenheid, pret en trots Suid-Afrikaans.

Laggende stemme, ritmiese musiek, hand-om-lyf paartjies, stralende gesinne en duisende stemme wat soos een sing is ’n kunswerk op die oog en oor. Tien van ons land se bekende A-Lys kunstenaars het die enorme verhoog op 2 Junie op horings geneem en die skare behoorlik op hul voete gehad. Jo Black, Bobby van Jaarsveld, Refentse, The Parlotones en Brendan Peyper het onder andere hierdie jaar se eersteklas program behartig. Jacaranda FM se aanbieders het ook op die verhoog by hul aangesluit, met die stasie wat regstreeks uitgesaai het.

Jacaranda FM se Algemene Bestuurder, Kevin Fine sê: “Jacaranda Day bly ’n immergewilde gunsteling. Dis omtrent iets om te aanskou wanneer duisende mense, die hele dag lank, die liedjies waaroor hulle mal is saamsing. Soos altyd was die atmosfeer absoluut elektries en ons sien uit na ’n selfs groter en beter Jacaranda Day in 2019!”

Dit is geen geheim dat daar soveel dinge in Suid-Afrika is waaroor ons met mekaar verskil nie. Negatiewe beelde op die televisie laat mense raadop. En tog wanneer ’n mens die skare so aanskou sien jy die eenheid, die liefde en die hoop. Dae soos hierdie herinner ons – ons verskil maar ons is so eenders. Wel gedaan Jacaranda FM met ’n uiters suksesvolle Jacaranda Day 2018!

Gaan loer gerus op Jacaranda se webtuiste vir foto’s van die feesvieringe!

 

Geskryf deur: Melanie Jacobs

Foto’s verskaf: Tim Moolman

Back To Top
%d bloggers like this: