skip to Main Content
Tips En Truuks Vir Oud En Jonk

Tips & Trix is ’n nuwe minireeks van ATKV-Sake wat op Die Groot Ontbyt te siene is en jou lagspiere gaan kielie. Die aanbieders van die drie-minute lange episodes is niemand anders as die Vir die Voëls-akteurs, Francois Jacobs en Simoné Nortmann nie.

Tips & Trix bied aan kykers ’n lekker komedie-inspuiting op Vrydae-oggende en hopelik ook iets om jou volgende kampeervakansie te vergemaklik. Anders as normale reklame, probeer ons deur produksies soos Die Koekemoers en Tips & Trix, gaste te vermaak en wys te maak! Ons vertrou dat Groot Ontbyt-kykers en besoekers aan ons sosiale media platforms, reeds die produksie geniet en inspirasie vir hul volgende besoek ontvang het!” vertel Reinard du Plessis, hoofbestuurder van kommunikasie en bemarking by ATKV-Sake.

Simoné het bekendheid verwerf vir haar rol as Nadia Croukamp in die gewilde sepie 7de Laan. TV-kykers sal haar ook herken van die kykNET-komedie Hotel en verskeie musiekvideo’s en kortfilms. Francois het in verskeie plaaslike produksies gespeel soos Pad Na Jou Hart, Hollywood in my Huis en Agent 2000 om ’n paar te noem.

Volgens Simoné lê die uniekheid van dié minireeks in die feit dat sy en Francois hulself speel en dat die humor in elke episode spontaan is. Francois leer kykers onder meer hoe om tent op te slaan en dis nie aldag smooth sailing nie. Gelukkig is Simoné daar om tot sy redding te kom. Francois bieg dat die braai-tonele vir hom die lekkerste was.

Hier is die jongste uitsending van Tips & Trix indien jy dit misgeloop het.

https://youtu.be/kLyVnfSQt8w

Tips & Trix is ook te sien op YouTube en die ATKV-oorde se Facebook- en Instagramblaaie. Die wenke op die platforms sluit aan by die weeklikse episodes van die minireeks.

Wie weet, dalk deel jy ook binnekort raad uit om die braaivleisvuur.

 

Geskryf deur Heloïse van Huyssteen

Foto’s Verskaf

 

Back To Top
%d bloggers like this: