skip to Main Content
Willim Die Verkleurmannetjie

Suid-Afrikaanse rocker. Filmmaker. Ghoema-benoemde. Dis maar net ’n paar van die etikette wat om Willim Welsyn se nek hang.

Tog beskryf hy homself in eenvoudiger terme: “ ’n Man, ’n pa, ’n ou wat werk, skryf, sing, speel en onderhoude voer met mense in my garage.” Nes ’n wafferse pa wat nie een van sy kinders kan uitsonder nie, kan Willim ook nie ’n gunsteling-beroep kies nie. “Elkeen van my beroepe of belangstellings kielie ’n spesifieke snaar op my psige se kitaar. Dus kan ek nie een uitsonder nie, want hulle is veronderstel om saam gespeel te word.”

Dis seker oor dié uitkyk dat sy inspirasie selde opdroog en dat hy poëties oor sy jongste album Blitzkriek gesels. “Dis is ’n versameling van Afrikaanse-rock, satiriese-glam en ironiese country songs wat kommentaar lewer op die donker, maar steeds kostelike aspekte van die mens se onvermoë om sin te maak van al die dinge wat die lewe na ons kant toe gooi.”

Tog verseker hy ons dat alles op die album nie té ernstig is nie. “Die temas se grimering is gepoeier met humor en blink gepoets met tong-in-die-kies-versies wat jou bybly. Daar is ’n wrede wals wat handel oor ’n Sanlam-kliënt, ’n Karoo-skoffel oor ’n Herfsheks se onderrok wat uithang, ’n instrumentele verwerking met die naam Ysterkonfetti, ouers wat skei op Onbeskofte Beloftes en ’n verpleegster wat verlief raak op ’n man wat op sterwe lê na ’n
motorfietsongeluk op Vêr Hiervandaan.”

Vir nou is dit dié einste album wat hom besig hou en aanhangers kan ook uitsien na ’n rits musiekvideo’s en konserte. Daar is egter een konstante in Willim se wêreld vol veranderlikes: sy weeklikse onderhoud met ’n interessante gas binne sy garage in Bellville. Laai Blitzkriek af by iTunes vir R79,90 of bestel ’n CD by williamwelfare@gmail.com. Kyk ook uit vir sy WAT Podcast op iTunes, Spotify of opwatpodcast.com.

Facebook: williamwelfareband
Instagram: william_welfare

 

Geskryf deur: Heloïse van Huyssteen

Foto’s: Gillian Coetzee 

Back To Top
%d bloggers like this: