skip to Main Content
Sepie-feeks Wil Eintlik Meermin Wees

Cindy Swanepoel – ’n rabbedoe op die kassie, maar ’n hart van goud by die huis.

Ons het vandeesmaand by Cindy gaan uitvind wat die uitdagings van haar buitengewone “9-5” beroep is en die verantwoordelikheid wat daarmee gepaard gaan om jou karakter se seer rég oor te dra.

Cindy Swanepoel staan nie verniet op Instagram bekend as @cindyswaan nie. Sy is lief vir die natuur en om ’n godin in die water te wees. Sy wou van kleintyd af al ’n aktrise wees, maar as sy régtig iets anders moet kies dan sal sy ’n meermin word.

Cindy het al bietjie navorsing daaroor gedoen en glo dit of nie, maar jy kan ’n meerminkursus in die Filippyne doen. Dan is jy amptelik ’n gekwalifiseerde meermin! Gelukkig is Dokter Annelize Roux se ambisieuse drome nog nie alles bewaarheid nie en sy geniet dit nog té veel om At Koster se bloeddruk op te jaag.

Daar is nie vir haar ’n voorkeur genre nie – teater, film en sepie het elkeen ’n plek in haar hart. “Ek wil graag elke genre baie goed verstaan. Ek voel as ’n mens elke aspek van elke medium verstaan, dan kan jy net fokus op jou karakter en jou rol so goed as moontlik speel.” Om ’n sepiester te wees is uitdagend, veral wanneer jy ’n rol soos Annelize in die kykNET-sepie, Binnelanders vertolk. “As mens gelukkig is dan kry jy ’n challenging storielyn so ek voel baie bevoorreg dat ek hierdie jaar deel kon wees van ’n paar uitdagende storielyne. Ek kon my karakter en myself challenge. Dit is ’n groot verantwoordelikheid om jou karakter se seer reg oor te dra. ’n Mens moet onthou dat dit waardeur jou karakter gaan, iemand anders se realiteit is.”

Al het die kameras lankal ophou rol, bly ’n storielyn deel van Cindy. Daarom drink sy graag ’n glasie rooiwyn wanneer sy by die huis kom en sy oefen al haar frustrasies uit. Die ou tannies wat so graag kommentaar lewer op Binnelanders se Facebook-blad sal bly wees om te hoor dat Cindy glad nie belangstel in ’n ander vrou se man nie. “As ’n man ’n ring aan sy vinger het dan kyk ek nie eers nie! Ek dink dit sê baie van die man en baie van jou as jy in iemand wat getroud is se rigting kyk.”

Sy het al vir drie jaar ’n kêrel wat die impulsiewe en avoontuurlustige kant in haar uitbring. Klik hier om meer te lees oor alles wat dié twee al met ’n scooter in Vietnam vermag het. Cindy Swanepoel – met ’n glasie Merlot in die hand en ’n passie vir omgewingsbewaring, slaag sy daarin om rolle te vertolk wat mense bietjie laat dink…

 

Geskryf deur: Lizanne Theron

Fotograaf: Henry Marsh Photography

Venue: Wonder Steam Trains Pty Ltd.

Hare en grimering: Joeann DeWet van JB Makeup Team

Mode: ERRE Fashion

Juwele: Colette by Colette Hayman

Back To Top
%d bloggers like this: