skip to Main Content
Schalk Bezuidenhout: Speel Net Saam

Hierdie maand se tema is game changers.

“Ooooeee Schalk gaan ons nou lekker inspireer deur ons te vertel van een of ander persoon wat in hulle spesifieke veld so uitgeblink het dat hulle as’t ware die game ge-change het”, dink jy nou seker. Nee. Om ’n game changer te wees klink na ’n goeie ding. Ek sien dit nie so nie. Vir my is daar ‘n game. Almal in die wêreld speel saam en ken die reëls. Dan kom sekere mense en verander sommer die game! Dis nie cool nie!

Neem byvoorbeeld verhoudings. Die game is dat jy en ’n spesiale persoon saam ’n game speel. ’n Game genaamd “Liefde”. Die reëls van hierdie game is redelik eenvoudig. Respekteer mekaar en wees lief vir mekaar. Ek weet nie van jou nie, maar dit klink vir my makliker as rugby. Minder pyn… en wanneer dit wel fisies raak is dit baie lekkerder as ’n tackle. Maar soos ek sê, sekere mense is game changers. Dan sal een spesiale persoon gaan en ’n spesiale drankie gaan drink met iemand anders wat ’n spesiale naam soos Ricardo of Sesame het en voor die aand verby is, is jou spesiale persoon se spesiale tong in Ricardo of Sesame se mond. En al wat jy wou gedoen het is ’n eenvoudige game genaamd “Liefde” speel.

En so is daar baie games wat elke dag ge-change word deur stupid mense wat net nie by die reëls wil hou nie. Neem byvoorbeeld die Amerikaanse President. Die rol van Amerikaanse President is eintlik maar net ’n game met reëls. Ek moet egter bieg, hier is die reëls dalk bietjie meer kompleks as dié van rugby. Die Amerikaanse presidentskap is dalk eerder meer soos Monopoly of Trivial Pursuit.

Nietemin is daar wel reëls. Reëls soos dat jy nie ’n joernalis moet spot by een van jou politieke rally’s nie, veral nie as daardie joernalis gestremd is nie. Nog ’n reël is dat jy liefs nie ’n vet Noord-Koreaanse man wat nog al sy babavet het, sowel as tonne en tonne kernwapens, moet afpis nie. En ek weet ek weet, hy het onlangs die man wat nog al sy babavet het se hand gaan skud. Almal probeer nog uitfigure of dit ’n goeie move in hierdie game was, maar niemand weet regtig nie. Ons gaan soek daarvoor in die reëlboek, maar ons vind dit nie, WANT HIERDIE MAN HET DIE GAME GE-CHANGE!

En al wat ons wou doen is maar net ’n eenvoudige game genaamd “Wêreldvrede” speel. Daar is iets te sê vir die reëls volg, met ander woorde, die game speel. Ek sien deesdae gans te veel inspirerende foto’s op Facebook met die woorde: “Break the rules” of “Change the game”. My advies is: moenie. Die mensdom speel al vir eeue hierdie games en teen hierdie tyd het ons nou al die mees effiktiewe maniere gevind om dit te speel. Moet asseblief nou nie daai persoon wees wat dit vir die res van ons opmors deur die game te change nie.

Facebook: schalk.bezuidenhout.101

Instagram: schalkiebez

Twitter: schalkiebez

 

Geskryf deur: Schalk Bezuidenhout

Back To Top
%d bloggers like this: