skip to Main Content
Nadia Herbst – Woeker Met Haar Geleenthede

Sy is soveel méér as net ’n mooi meisie met blonde hare. Sy gryp elke geleentheid aan en maak seker elke dag tél.

Om drama te studeer en vir honderde oudisies te gaan is hoe meeste sepiesterre se storie begin – nie Nadia Herbst nie. Alhoewel sy nog altyd ’n liefde vir die kunste en televisie gehad het, het haar storie in 2015 by Idols begin.

“Ek was ’n top-10-finalis in 2015 se Idols en het daarna deel geword van Talent Etc. Ek het toe ’n video ingestuur waar ek vir Olivia oudisie het en ’n paar dae later het ek gehoor ek het die rol gekry.”

Die sepie, 7de Laan,is ’n bekende sepie in talle Suid-Afrikaners se huise en dit is vir Nadia ’n groot voorreg en eer om in dié sepie waaraan sy verslaaf was as kind, te kan speel. “Ek is iemand wat nog altyd op die verhoog was. Toe ek klein was het ek 7de Laan gekyk terwyl ek my aandete eet,” lag sy.

Sy voel jy vorm jou karakter en daar is baie ooreenkomste en verskille tussen haar en Olivia. “Olivia sukkel om nie ’n man in haar lewe te hê nie. Daar moes iewers iets in haar lewe gebeur het dat sy so afhanklik is van ’n man. Maar sy is ook sterk wanneer sy sterk moet wees.”

Dit was vir Nadia uitdagend aan die begin om haarself los te maak van Olivia. Sy glo dit help wanneer jy fisies jou karakter uittrek. Sy vertel: “As ek huis toe gaan dan trek ek vir Olivia uit en dan is ek Nadia. Ek trek dan my eie klere aan en probeer afskakel. Wanneer ek hartseer is, moet ek myself afvra of dit verband hou met my rol? Of is dit iets persoonlik?”

Sy is ’n regte Kaapse meisie en haar hart verlang terug na die moederstad. Sy moes aanpas en die besige Jozi-leefstyl embrace. “Obviously as ek kon, is daar baie dinge wat ek sou verander, maar dan sou ek nie die lewenslesse geleer het wat ek moes nie. Ek het laas jaar deur ’n terrible tyd gegaan. ’n Mens weet nie altyd hoe jy daar gaan uitkom nie, maar as ek terugkyk besef ek dat ek gegroei het as mens. Ek het die Kaap en sy mense baie gemis en ek moes leer om vir Olivia by die studio te los. Vandag weet ek dit was deel van self-discovering en ek het meer van myself geleer en gegroei as mens. Ek glo jy sal enigiets kan handle as dit met jou gebeur.”

Die Kaapse meisie het beslis harte kom steel in Gauteng. Haar passie vir die lewe is aansteeklik en ons hoop om haar nog baie op die kassie te sien.

 

Fotosessie deur BELLA Tydskrif.

Fotograaf: Maleene Henrichsen

Hare: Inge van Heerden van Inx Hair Design

Grimering: Jeandelene de Kock

Mode: Lorna Jane SA

Back To Top
%d bloggers like this: