skip to Main Content
As Jy Kan Lees, Kan Jy Presteer

Dis geen geheim dat lesers leiers is nie, maar Sasha-Lee Taylor het seker gemaak dat méér kinders leiers word met haar inisiatief.

Wat as een boek van die wêreld ’n beter plek kan maak? Dis presies wat Sasha-Lee Taylor met haar projek, “Learn to read, learn to lead” vermag het.

Sasha-Lee sê: “Ek het altyd ’n passie vir onderwys gehad en wou graag iets teruggee aan die gemeenskap. Ek voel dit is so belangrik dat almal toegang tot gelyke onderwysgeleenthede het. Ek het egter opgemerk dat daar baie kinders, selfs jong volwassenes, wat ongeletterd is en so het die idee om te leer lees en leer lei, ontstaan. Die naam verteenwoordig jong kinders van vandag wat die leiers van die toekoms word.”

Sy glo ‘local is lekker’ en sy het probeer om die karakters en storielyn so te skep dat dit die diversiteit en skoonheid van Suid-Afrika omhels. Sy verduidelik: “Ek wou hê almal moet met die storie en karakters kan identifiseer. Die storie speel in Suid-Afrika af. Baie van die kleure is regdeur die boek gebruik om ons reënboognasie te verteenwoordig en ook om dit vir die kinders meer pret te maak. Elke boek het ’n tema aan die begin wat deur die hele boek voortduur. Die belangrikste is dat daar ’n opvoedkundige afdeling in die boek is wat die kinders leer om te lees en skryf. In hierdie afdeling is herhaling gebruik om dit vir die kinders makliker te maak om te leer lees en woorde te herken. Ons het ook baie eenvoudige en basiese Engelse sinne dwarsdeur die boek gebruik wat voordelig is vir elke kind wat wil leer lees.”

Sasha-Lee Taylor

Oudpres. Nelson Mandela is ’n leier wie se nalatenskap nog lank sal voortleef. Dis juis waarom Sasha-Lee die hoofkarakter en mascot na sy noemnaam, Tata, vernoem het. Dié boek maak opslae! “Ek is in Junie 2018 uitgenooi na die Nasionale Jeugberaad in die parlement in Kaapstad, waar ek oor die leerproses “Learn to read, learn to lead” gesels het en ook kon insig verkry oor al die dinge wat die jeug wou aanspreek. Dit was werklik ’n eer om uitgenooi te word en sal beslis een van my hoogtepunte bly,” vertel sy.

Om alles te kroon word 50% van die nettowins gelykop verdeel tussen die Nelson Mandela Kinderfonds en die Tshwane Kinderwelsynsfonds. Dis nog ’n rede om hierdie ongelooflike inisiatief te ondersteun.

Sasha-Lee Taylor is die verskil wat sy in die wêreld wil sien.

Vir meer kontak: learn2readbook@gmail.com

Instagram: @sashataylor21
Facebook: @sashaleetaylor21
Twitter: @Sashalee_Taylor

Back To Top
%d bloggers like this: