skip to Main Content

Niemand kan ’n beter jy as JY wees nie en Leandie het dit al op ’n jong ouderdom besef. Sy deel met ons van die lewenslesse wat sy in haar 30 jaar geleer het.

’n Hittegolf en ’n corporate suit…  Vir die meeste van ons sal die hoë humiditeit van ’n somersdag in Pretoria sy tol eis, maar Leandie is koelkop en professioneel by ons cover shoot by 012 Central in Pretoria.

Sy beantwoord een-vir-een elke vraag baie spontaan en natuurlik. Dit voel asof ek met ’n jarelange vriendin gesels. Dis duidelik dat Leandie weet wie sy is en sy is gelukkig in haar eie vel. Maar dis nie maklik om content te wees met wie jy is nie en sy glo dit kom met ervaring. So hoe kry Leandie dit reg? “Jy moet jouself omring met die regte mense en vriende. Mense wat jou help om die beste jy te wees,” vertel sy.

Wysheid kom nie noodwendig met grysheid nie

Leandie is maar net 30 jaar oud, maar sy het reeds die wysheid van Salamo. “As ek een ding vir girls kan leer is dit dat jy net jouself moet wees. Wees die beste version van jouself. Fokus op jou sterkpunte.” Selfs die boekmerkie in haar eerste Bybel het gelui: “Wees jou beste self.”

Sy herinner haarself elke dag aan die volgende: “I am enough, blessed, grateful.” Wanneer sy as motiveringspreker optree moedig sy mense aan om niemand anders te probeer wees as jouself nie.

Foto: Henry Marsh Photography

Dankbaarheid – die sleutel tot geluk

Nog iets wat ons by Leandie kan leer is dat sy in dankbaarheid leef. “Gratitude het my gehelp om my ma se dood te verwerk. Ek het dinge gaan soek waarvoor ek kan dankbaar wees soos dat ek ’n ‘waarskuwing’ gehad dat my ma siek is en dat ek haar tydelik gaan moet groet. Dankbaar dat ek vir ’n groot deel van my lewe ’n gesonde en goeie ma kon hê. Ek raak nog steeds hartseer en verlang nog steeds na my ma, maar ek is dankbaar dat ek so ’n ongelooflike ma kon hê.”

Skryf elke dag vir jouself tien dinge neer waaroor jy kan dankbaar wees. Leandie sê: “Ek begin altyd deur dankie te sê vir my health, my man, vriende, en familie. Ek is dankbaar dat ek kan doen dit waarvoor ek lief is. En ook dat die regte mense wat vir my die regte raad gegee het, oor my pad gekom het. Ek is dankbaar dat ek hierdie jaar kon leer.”

Sy het ook ’n diep insig oor verhoudings en die huwelik. “Om die regte persoon te ontmoet is beplanning van die Here, maar van daar af moet jy onthou dat ’n verhouding ’n keuse is. Dis harde werk – because it’s so worth it!”

Foto: Henry Marsh Photography

Ander mense het haar geleer…

Haar man, Bouwer Bosch, is haar rasionele brein. “Bouwer het my geleer dat daar altyd twee kante aan ’n storie is. Hy kies nie altyd my kant nie. Hy herinner my dat konteks in elke situasie belangrik is.” Haar pa het haar geleer dat ’n mens moet oop wees vir ander mense se perspektiewe.

Haar vriendin, Michelle Gouws, het haar geleer dat dit regtig okay is om mooi aan te trek en goed te lyk. “Dis cool om respek vir jouself te hê en die most fabulous version van jouself te wees!”

Sy gaan in 2019 hard werk daaraan om meer te delegeer 😉! Maar kom ons leer by Leandie – wees dankbaar vir jou blessings en wees die beste weergawe van jouself!

Ps. Leandie het ook ’n limited edition rooiwyn bekendgestel, Du Randt Bosch – Grateful 2017. Gaan na Skoonma.com om joune te bestel!

 

Fotograaf: Henry Marsh Photography
Venue: 012 Central
Hare en grimering: JB Makeup Studio
Stilering: Bianca Raath
Mode: Suited for Her 

Back To Top
%d bloggers like this: