skip to Main Content
Nicole Bessick: Die Barbie Wat Boks

Aanvanklik wou sy net eers haar eie stunts kon doen, nou is Nicole Bessick verlief op dié sportsoort waar sy die stereotipe dat net mans kan boksgevegte doen, op hul kop draai.

Jy ken haar dalk as Chloe Hendriks van die sepie, Broken Vows op e-tv. Maar hierdie aktrise staan nou bekend as Action Barbie. Sy vertel: “Om ’n vrou te wees wat boks of enigiets doen wat deur mans oorheers word, vereis ’n dik vel en onwrikbare wil. Daar is ook ’n lang lys van stereotipes oor hoe ’n atletiese vrou moet lyk en hoe hulle moet optree.

Ek hou daarvan om hierdie stereotipes op hul kop te draai. So het ek die bynaam “Action Barbie” gekry. As jy verby die wimpers en naels kyk, sal jy weet ek het ’n gesonde passie vir sport en avontuur. Enigiets wat veg, ’n vinnige motor of vuurwapenverwant is, maak my opgewonde. Ek is baie sterker as die meeste mans wat ek ontmoet. Dit is belangrik vir my om vir jong meisies te wys dat ons nie hoef terug te staan vir mans nie”

Foto: Verskaf

Sy het aanvanklik net begin boks sodat sy haar eie stunts kan doen, maar sy het so verlief geraak op boks dat sy dit sedertien as ’n stokperdjie aanpak.

Op 3 Augustus 2019 pak sy een haar grootste uitdagings aan deur deel te naam aan die EFO “Elite Fighting Organisation”. Sy wil goed voorbereid wees vir dié dag deur harder te oefen en reg te eet. Nicole kry afrigting by die UFC-vegter, Don Madge en dan help Stef Essie haar ook met haar eetplan.

Sy is trots daarop om ’n vrou te wees. Sy voel vroue is veelsydig en het ongelooflike deursettingsvermoë. “As vrou is daar elke dag ’n nuwe uitdaging of hindernis wat voorlê. Die uitdagings wat die samelewing na jou kant toe gooi, in die werkplek, by die gym, in jou vrye tyd en by die huis, maak jou sterk, terwyl jy die uitdagings hanteer sonder om ’n harde persoon te word. 

Ons sien uit om te sien hoe Nicole Bessick op 3 Augustus vir almal wys dat Barbies όόk kan boks.

Back To Top
%d bloggers like this: