skip to Main Content
Francois Van Coke Rock Rumours Met Sy Nuwe Album

Verbeel jou dat jy in ʼn ondergrondse, donker nagklub is waar die rook so dik in die lug hang dat jy skaars die muurpapier, wat besig is om af te dop, kan sien. Op hierdie mure is daar ‘n klomp plakkate van musikante wat in die verlede hier opgetree en amok gemaak het. Die kamer is gevul met tieners wat kwaad is vir hulle ouers en teen die sisteem probeer rebelleer.

O, nee wag, hierdie is nie 2008 nie en dit is nie Fokofpolisiekar wat optree nie. Draai die klok aan na 2017: Rumours Rock City is vol tieners wat oor die nuutste Trance groep gesels, terwyl hulle foto’s saam met vriende en drankies neem. Vir iemand wat tydens die Polisiekar revolusie groot geword het, is dit goed om te sien dat Francois van Coke dit regkry om die generasiegaping te vul en steeds soveel mense na sy optredes lok soos in sy jonger, pre-ouerskap dae. Liedjies soos “Dit raak beter” spreek daarvan dat Van Coke nie meer so kwaad is vir die standaarde wat die lewe vir ʼn jongmens stel nie, maar dat hy steeds woorde só kan oordra dat ʼn hele gehoor saamstem en saam sing.

ʼn Aand in die teenwoordigheid van Van Coke is nie volledig sonder ʼn vinnige terugflits na Van Coke Kartel en/of Fokofpolisiekar nie. Die gehoor gee ook glad nie om om diè stukkie geskiedenis te herleef nie en sing uit volle bors elke woord van “Ek skyn (heilig)” saam. Van Coke het gesorg vir ʼn aand van goeie Rockʼn Roll musiek, wat verseker het dat Die Gevaar se kitaarspeler, Jedd Kossew, die gehoor met elke noot wat sy kitaar sing, verlei. Ten spyte van die feit dat Karen Zoid nie daar was nie, het elke paartjie mekaar omhels toe die woorde “Ek lê my wapens neer” uit die luidsprekers vloei.

Van Coke se dae behels sekerlik nou meer doeke as doppe, maar die man kan steeds met sy swart uitrusting ‘n gehoor vol jongmense om sy 36-jarige pinkie draai.

Jy kan die gelukkige wenner van Francois van Coke se nuwe album, Hierdie is die lewe, wees. Gaan na ons wenblad om in te skryf: WEN!

Back To Top
%d bloggers like this: