skip to Main Content
Carina Nel – Vredevol

Cappuccino in die hand, haar familie aan haar sy en ’n droom in haar hart. Dit is wie Carina Nel is. Sy is vol vrede oor die mens wie sy is.

As klein dogtertjie het sy in die jakarandastad grootgeword. Sy het nog altyd ’n liefde vir ballet en drama gehad en sy voel dié twee liefdes vul mekaar mooi aan. Vandag het sy vrede in haar hart met wie sy is en wat sy al bereik het.

Foto: Maleéne Hinrichson

Een ding wat Carina en Dr. Alexa Welman (7de Laan) in gemeen het is dat hulle albei gedrewe en hardwerkend is. “Die eerste dag wat ek my studieloopbaan by Tswhane University of Technology (TUT) begin het, het die dosent vir ons gesê daar gaan dalk twee mense uit die klas wees wat gaan werk hê. Dis rof om so daaraan te dink. Ons beroep is onseker. Dit hang ook af of jy op die regte tyd op die regte plek is. Ek het vir lank admin werk gedoen by ’n ouditeursfirma om ekstra geld te verdien. Dis ook waar ek my man ontmoet het.” Bietjie geluk en baie harde werk het haar die rol van Dr. Alexa besorg.

Maar wanneer hierdie ambisieuse en doelgerigte vrou oor haar man praat, dan is daar ’n kinderlike opgewondenheid in haar stem en ’n vonkel in haar oë. Hulle sal later vanjaar hulle derde huweliksherdenking vier. “Iets wat my en my man vir ure lank kan besig hou is om uit te figure waarheen ons volgende wil reis. Ons is baie lief vir travel. Ons probeer om so een keer ’n jaar ’n local plek te besoek en dan ook om een keer ’n jaar oorsee te gaan. Dit kan ’n duur storie raak, maar ek glo dat jy dinge wat vir jou belangrik is prioritiseer. Ons het vir lank amper niks meubels in ons huis gehad nie, want dit was vir ons belangriker om ons geld aan reiskostes te spandeer. Ons kyk ook altyd uit vir lekker deals.”

Foto: Maleéne Hinrichson

Liefde beteken vir haar om onvoorwaardelik lief te wees vir iemand ongeag hulle foute, verlede en slegte eienskappe. Sy vertel sy is baie geheg aan haar familie en sy sien haar ma minstens twee keer ’n week. “Ek en my ma is lief daarvoor om koffiewinkels uit te probeer, cappuccino te drink en ’n stuk kaaskoek te eet. Dis ons ‘ding’. Ek is ook baie bevoorreg dat ek ouers en ’n man het wat bankvas agter my loopbaan en drome staan. My ouers het my van die begin af ondersteun en my man laat my toe om elke dag my droom te kan uitleef. Ek dink nie dit is altyd vir hom so maklik nie. As ek myself in sy skoene sit, dan dink ek dit moet regtig moeilik wees, maar hy verstaan en ondersteun my ongelooflik baie.”

Uit en tuis by die huis is Carina mal daaroor om voor die televisie te lê en series te kyk. “Ek en my man het Game of Thrones gekyk en ons was vasgenael voor die T.V. – daar was snacks en als,” lag sy. En glo dit of nie, maar hierdie Dr. Welman is ook lief daarvoor om Grey’s Anatomy te kyk.

Foto: Maleéne Hinrichson

“Ek is op hierdie stadium van my lewe regtig net happy! Ek is gemaklik met wie Carina is. Ek weet ook nou wat belangrik is in die lewe. As jy my tien jaar terug sou vra wat ek in die lewe soek sou my loopbaan en wat ek alles wil bereik heel bo aan die lysie wees. Dit is nog steeds belangrik, maar dis nie waaroor die lewe gaan nie. Vir my gaan die lewe oor memories saam met my familie en om tyd saam met hulle te spandeer.”

Die donkerkop met die aansteeklike lag voel vredevol met wie sy as mens is. Met ’n dankbare hart droom sy steeds groot.

 

Krediet vir die fotosessie: 

Fotograaf: Maleéne Hinrichson 

Venue: Moroccan House Pretoria

Grimeerkunstenaar: Jeandelene de Kock 

Hare: Inge van Heerden 

 

Back To Top
%d bloggers like this: