skip to Main Content
Bibi Slippers – Vindingryke Verbeelding Gee Haar Vlerke

Bibi gee boeke lewe met haar verbeelding en is lief daarvoor om haar gedagtes neer te pen – of dit nou ’n gedig op ’n stuk papier is of ’n stukkie wysheid wat sy op Instagram  deel – skryf is deel van wie sy is.

Bibi is intelligent. Sy toor met woorde. En sy teken gereeld haar inventaris van klein vreugdes aan terwyl sy die dinge wat régtig saak maak in die lewe, waardeer. Jy sou vir Bibi al op kykNET gesien het wanneer sy Bibi se boekrak aanbied. Miskien erken jy die feisty vrou op Schalk Bezuidenhout se program, Die Ware Naarheid. Dit maak nie saak hoe jy haar ken nie, die talentvolle Bibi Slippers met die baie hooi op haar vurk se eerste en grootste liefde sal altyd lees wees. 

Foto: Verskaf

Lees is persoonlik

Dis geen geheim dat Bibi lief is vir lees nie. “As jy ’n boek lees dan kan jy self die detail van die karakters en omgewing inkleur. Jy bevolk die boek met dinge wat jy reeds gesien het. Dis belangrik om jou verbeelding fiks te hou. Daai selfde soort rush wat jou liggaam kry as jy geoefen het; kry jou brein as jy lees.”

Sy voel dis baie onregverdig om vir iemand te vra wie hulle gunstelingskrywer is, maar as sy moet kies is dit die Kanadese digter, Anne Carson. “Ek het my meestersgraad oor haar geskryf. Dit is iemand se werk waarin ek bietjie dieper gedelf het en ’n mens raak nie sommer vining moeg daarvoor nie.”

Bibi se digbundel, fotostaatmasjien, is in 2017 bekroon met die Eugene Marais-prys, die Elisabeth Eybers-prys die ATKV-woordveertjie vir poësie en die UJ-debuutprys. “Fotostaatmasjien se inspirasie was hoofsaaklik om my graad klaar te kry,” lag sy. “Die boek is tot ’n groot mate geïnspireer deur ander digters se digkuns. Die lees daarvan en om dit te probeer namaak was die deurlopende sin van inspirasie vir dié bundel.”

Foto: Verskaf

Tegnologie en boeke?

Sy voel dat ons eintlik in vandag se tyd, op skerms soos fone en rekenaars, meer lees, maar nie altyd besef dat ons lees nie. “Ons lees eintlik meer. Ons attention span raak al hoe korter en korter. Ons lees kort snippets. Daarom verkies ek ’n hardeband boek, maar ek het ’n tablet en dis gerieflik as mens reis. Jy kan ook net soveel boeke saam met jou neem en dan is dit lekker om verder jou Kindle te gebruik.”

Bibi se uitkyk op social media

“Trolle op sosiale media maak my gat lam. Ek voel sommer die diep sug as ’n mens net daaroor praat. Ek kan nie dink dat sekere mense dit as sinvolle tydverdryf sien nie. Dit maak my soms moedeloos. Mense se aaklige kant is soms op display wanneer jy na social media kyk. Ek probeer comment sections vermy. Ongelukkig vereis my werk dat ek soms die comments moet lees, maar ek probeer om nie te veel tyd daaraan af te staan nie.”

MAAR dit is ook voordelig. Bibi sê: “Social media is ook ’n plek waar jy inspirasie en stimulasie vind.”

Sy poog om minder tyd aan social media te spandeer as wat sy voorheen het.  “ ’n Mens raak verslaaf aan sosiale media. Nie omdat jy ’n slegte mens is nie. Dis net so ontwerp om jou aandag vir ’n maksimum tyd te behou. Ek voel dat daar tog beter dinge is waaraan ons ons tyd en aandag kan bestee. So ek het besluit om aktief stappe te neem om minder tyd aan sosiale media te spandeer.”

Bibi Slippers het ’n fikse verbeelding en ’n inventaris van bewyse hoe sy ’n verskil maak in die Afrikaanse literatuur.

 

Hooffoto: Adam Heyns