skip to Main Content
Mentorskap 101

Die regte mentorskapverhouding kan wonders vir jou loopbaan beteken en dis waarom elke vrou ’n mentor in haar industrie nodig het. #LiefsteBELLA het gaan uitvind wat mentorskap beteken.

’n Mentor is dikwels ’n ervare individu wat reeds in haar veld gevestig is en gerespekteer word. ’n mentorskapverhouding se doel is vir die mentor om advies en ervaring met die mentee te deel.

Die fondasie van enige mentorskap is vertroue. ’n Gehalte-mentorskapverhouding is ’n veilige hawe waar ’n mentee haar foute en swakhede kan deel en betroubare en opbouende advies by die mentor kry. Dit neem baie lank om dié tipe vertroue te vestig en daarom kan ’n goeie mentorskapverhouding as ’n belegging van tyd en vertroue gesien word.

Terwyl dit lekker is om iemand te hê wat jou help wanneer jy sukkel, is die mees effektiewe mentors brutaal eerlik. Die doel van dié kritiek is egter nie om die mentee af te breek nie, maar eerder om haar gefokus te hou sodat sy kan besef wat verander moet word om haar doelwitte te bereik en om te verstaan waarom sy ’n fout gemaak het.

’n Goeie mentor moet ook bewus wees van haar eie beperkinge in haar kennis en ondervinding en gee nie om om die mentee in die regte rigting te wys nie. Effektiewe mentorskap verhoudings verryk beide die mentor en die mentee, want hoewel die mentee baie goeie advies ontvang, kry die mentor die satisfaksie om ’n jong vrou te help.

 

Saamgestel deur Zara Steyn
Foto’s: Shutterstock
Bron: Forbes

Back To Top
%d bloggers like this: