skip to Main Content
Imposter Much?

Suksesvolle vroue voel maklik asof hul nie hul pos waardig is nie, asof die persoon wat hul die werk aangebied het, ’n fout gemaak het.

BELLA ondersoek “imposter syndrome” en help jou om oor die gevoel van te min te kom.

Die term “imposter syndrome” is wyd bekend, ’n sielkundige term uit 1978 wat verwys na ’n gedragspatroon waar mense hul prestasies betwyfel en ’n dringende, aanhoudende vrees het om as ’n leuenaar of bedrieër blootgestel te word.

Wanneer jy hierdie vrese ervaar, pootjie jy jouself gewoonlik maklik in jou loopbaan – jy is bang om jou expertise te gebruik of jou stem dik te maak, jy sal ook nie maklik aansoek doen vir ’n verhoging nie – want jy voel mos reeds jy verdien nie die werk wat jy het nie! Jou maatskappy mis dus uit op jou fantastiese idees, want jy is te bang om ’n woord te uiter – netnou vang iemand jou uit! Hierdie tipe vrese kan jou duur te staan kom en selfs probleme by die huis veroorsaak.

In haar TED Talk Lesson, What is Imposter Syndrome and How You Can Combat It, gesels Elizabeth Cox oor Maya Angelou en Einstein se vrees dat hul talente nie genoeg is nie. Dit word beskryf as ’n “unwarrented sense of insecurity”.

Jou vrese is gewoonlik ongegrond, maar jy kan dit nie raaksien nie – en ander sal maklik gefrustreerd raak wanneer jy aanhoudend “nie genoeg” voel nie. Almal kry natuurlik dae wanneer hul soos ’n mislukking voel, maar indien hierdie tipe vrese dag na dag aan jou knaag, is dit wys om met iemand daaroor te gaan gesels.

Daar is vyf tipes persone wat makliker aan “imposter syndrome” ly, volgens Dr. Valerie Young in haar boek, The Secret Thoughts of Successful Women: Why Capable People Suffer from the Imposter Syndrome and How to Thrive in Spite of It:

  • Die Perfeksionis
  • Die Natuurlike Genie
  • Die Superman of Supervrou
  • Die Ekspert
  • Die Een wat Solo vlieg

Hierdie tipe “high achievers” sukkel veral met die gevoelens van waardeloosheid in hul professionele lewens, al het hulle al hoë mylpale bereik. Indien jy ook identifiseer met hierdie gevoelens, weet net dat een studie beraam dat 70% van suksesvolle vroue dieselfde voel – en dat dit help om daaroor te praat en die skills te leer om daardie gedagtes uit te sny.

 

Bronne: time.com, themuse.com

Back To Top
%d bloggers like this: