skip to Main Content
Gapings In Jou Tech-tjek

Die tech-wêreld is mos een van daai wat as ’n man se domein gesien word. Daar waar vroue nie tel nie… En volgens navorsing word mans ook meer betaal in tech-beroepe.

In 2018 het Hired, ’n Amerikaanse werkskeppingsplatform, ’n studie geloods om die verskil in salarisse tussen mans en vroue in die tech-wêreld na te vors. Hul bevinding was dat mans in tech 63% van die tyd hoër salarisse aangebied word vir dieselfde posbeskrywing as vroue. Dis ook interessant dat vroue 66% van die tyd vir minder geld vra as mans – ook vir dieselfde rol in dieselfde maatskappy.

Die term “tech gender wage gap” word al ’n geruime tyd bespreek – en nie net in die VSA nie. Daar word bespiegel dat maatskappye in die VSA gemiddeld 4% minder aanbied vir vroue, met sekere maatskappye wat tot 45% minder aanbied.

In 2019 het vroue in die tech-spasie slegs $0.79 verdien vir elke dollar wat mans verdien het. Verskeie faktore dra by tot die ongelykheidsprobleem, hierdie sluit in onderbewuste vooroordele, inkonsekwente vergoedingsbeleide en die gewoonte om op ’n vorige salaris staat te maak om aanbiedinge en salarisverwagtinge te beding.

Foto: Shutterstock

Wat kan jy doen om die ongelykheid in jou werksomgewing hok te slaan?
  • Weet wat jy werd is (jy is nie nét jou vorige salaris plus 5% nie!)
  • Doen navorsing oor salaristendense in jou industrie
  • Moenie soos ’n bedrieër voel nie – “imposter syndrome” is ’n wêreldwye probleem – lees daaroor in ons suksesafdeling.
  • Vra vir meer as wat jy dink hulle gaan aanbied (selfs vir meer as wat jy dink jou regtig toekom).

Volgens Entrepreneur.com gaan die tech-sfeer binnekort ’n talent-tekort ervaar indien nie meer vroue tot die besigheid toetree nie. Die getal oop posisies in tech kan tot 1 miljoen styg in 2020 en hierdie getal korreleer direk met die onvermoë van maatskappye om die regte kandidate te vind. Indien gekwalifiseerde vroue uitgeskuif of minderwaardig voel sal hulle hulself nie oopmaak vir ’n loopbaan in die tegnologiese veld nie, en die talent-tekort sal groei.

Die probleem is nie slegs op die tech-spasie van toepassing nie, maar strek oor vele beroepe.
Staan sterk en baklei vir wat jy werd is!

 

Bronne: techrepublic.com, hired.com, payscale.com, entrepreneur.com

Back To Top
%d bloggers like this: