skip to Main Content
Span Uit In Die Kalahari!

Septembermaand is toerisme-maand en ons het gaan inloer by SJ Koortzen, van die gewilde Kgalagadi Lodge in die Kalahari.

 

SJ is die mede-eienaar, stigter en onwikkelaar van dié lodge, geleë tussen die rooi duine van die Kalahari, net 5 km voor die bekende Kgalagadi Oorgrenspark en 250 km vanaf Upington lughawe. Kgalagadi Lodge spog met ’n verskeidenheid van 3-ster chalets sowel as ’n 4-ster kampterrein, ’n lieflike swembad vir die somer en ’n groot vuurput vir daai koue Kalahari-wintersaande. Kgalagadi Lodge bied ook ’n 50-sitplek restaurant wat watertand, tradisionele Suid-Afrikaanse geregte met ’n moderne twist bedien; ’n ten volle toegeruste kruideniersware winkel met heerlike vars vrugte en groente, ’n bakkery met vars gebakte brood en ’n klein slaghuis. Die winkel verkoop ook handgemaakte aandenkings van die area, gemaak deur die plaaslike gemeenskap en die San-mense. Die lodge bied alles onder een dak wat jy moontlik kan nodig kry op jou vakansie.

In die ou Kalahari is tonele soos hierdie nie iets vreemds nie. Khoi-San-inwoners van die omliggende nedersettings ry te perd om hul vee aan te jaag of om te ry waar hulle moet wees.

Hoekom is dit vir julle belangrik om plaaslike besighede te ondersteun?

Vir ons is Kgalagadi Lodge baie meer as net ’n besigheid, vir jare woon ons en ons families al in die Kalahari, en baie van die mense wat nou by ons werk het saam met my groot geword – ons het saam gespeel, gelag en gehuil. Ons gemeenskap beteken vir ons baie en ons weet dat om in ons gemeenskap te belê vir ons ongelooflik baie gaan beteken in die toekoms.

Deur plaaslike besighede te ondersteun gee ons, ons mense die kans vir beter lewensomstandighede, vir hulle en hulle gesinne. Dit laat hulle groei op ’n sosiale vlak en maak omstandighede beter by die huis.

Kinders leer by hulle ouers en met beter lewensomstandighede en opvoeding vir die kinders belê ons in môre se plaaslike verskaffers en geskoolde arbeid in ons omgewing.

Hoe meer groei plaasvind in ons omgewing en hoe beter is die plaaslike ekonomie, en hoe beter kan ons groei en voorentoe beweeg.

By die ruim en gesellige restaurant van die Kgalagadi Lodge kan heerlike wildsgeregte tot reuse hamburgers geniet word. Dit is ‘n geleentheid wat nie gemis moet word nie.

Watter groen-idees implementeer julle by Kgalagadi Lodge?

Ons probeer groen inisiatiewe implementeer waar moontlik.

Nuwe chalets word met son geysers gebou en die droom is natuurlik om eendag net van sonkrag gebruik te maak, maar op die oomblik is dit nog net te duur.

Ons maak ook al ons water vars met reverse-osmosis en dan herwin ons die storte en handwasbakke se water vir ons bome en plante.

Ons het ook laasjaar ’n klein groentetonnel begin. Ons het baie vars tamaties en heelwat kruie gekweek en hoop om dit dié jaar so bietjie te vergroot.

Julle is betrokke by verskeie gemeenskapsprojekte, vertel ons meer daarvan.

Ons is tans besig om ’n plaaslike boer, wat ’n gasteplaas begin het, te help met ’n 4×4 roete op sy plaas. Ons voorsien die trekker en brandstof om die roete te skraap.

Ek het ook die boer se seun aandele gegee in kameelritte op die Lodge wat nog so bietjie sukkel, maar dis nog nuut so ek glo dit sal een van die dae begin beter gaan.

Dan het ons groot drome om saam met die boere in die omgewing ’n “People’s Park” op te rig. Ons kom agter, met Sanparke se daglimiete, dat daar ’n groot mark is vir toerisme in ons omgewing en met die park wat dit nie kan hanteer nie, sal so ’n projek ongelooflik baie vir die gemeenskap beteken, en kan dit honderde mense se lewens verander. Dis egter nog baie vroeg in die projek en daar is nog ’n lang pad om te stap.

Vir meer inligting, besoek gerus: http://www.kgalagadi-lodge.co.za/.

Geskryf deur: Mart-Marié du Toit 

Foto’s: Verskaf 

 

Back To Top
%d bloggers like this: