skip to Main Content
Marine Voluntourism

Voluntourism is ’n trend wat die afgelope paar jaar die wêreld aan die gons het.

Toeriste staan tyd af aan liefdadigheids- of omgewingsorganisasies om goed te doen vir ’n gemeenskap of die omgewing. Dis veral ’n groot trekpleister vir internasionale toeriste om Suid-Afrika te besoek. Ons het gaan uitvind wat die opsies is:

Airbnb bied ’n hele paar opsies en 100% van wat jy vir die ervaring betaal gaan vir die onderskeie organisasies. ’n 10-dag Shark & Marine Research ervaring in Van Dyksbaai sluit ’n duikervaring met haaie, ’n besoek aan Panthera Africa, uitreike in die gemeenskap, ’n eko- toerisme toer en meer in. Jy kan ook die Kaapse Peninsula saam met ’n marinebioloog verken. Dis ’n 8-ure lange ervaring en die reisplan sluit Kaap Punt Nasionale Park en die Kaap Punt Ligtoring in. ’n Ander opsie is AfriOceans Conservation Alliance se Paddle with the Penguins ervaring. Dit duur 2 ure en is ’n verantwoordelike manier om pikkewyne en robbe te sien en meer oor haaie te leer.

Foto: Verskaf deur Edge of Africa

Edge of Africa se Action Against Plastic Pollution and Climate Change is ’n volunteerprogram aan die kus van die Tuinroete. Hulle maak gereeld strande in die omgewing skoon en leer plaaslike kinders oor die belangrike rol wat ons as mens in die ekosisteem speel. Hul projek neem ook volunteers na unieke getypoele en vleiland habitatte waar hul navorsing doen oor plaaslike spesies en die omgewingsgesondheid monitor. International Marine Volunteers het ook ’n indrukwekkende program in Gansbaai. Die lengte van die program is 2 weke of meer en hul stel voor dat jy dit 4 weke maak. Hul missie is om hul volunteers deur middel van lewensveranderende ervarings te inspireer om ’n verskil te maak. By hulle gaan dit oor ekotoerisme, bewaring, gemeenskap, navorsing en opvoeding.

So, BELLA, as jy lus is vir ’n avontuur wat iets beteken is hierdie beslis jou go-to opsies.

Back To Top
%d bloggers like this: