skip to Main Content
Die Kaap Is Dalk Nié So Hollands

Ek is beslis ʼn Johannesburger. Dinge werk vinnig, produktief en ry teen 120km/h op ʼn stopstraat af. Elke nou en dan bevind ek myself wel op die Suidelike punt van die Afrika kontinent, beter bekend as die Kaap.

Hier is dinge die teenoorgestelde van Johannesburg. As hierdie twee stede familie was, sou Johannesburg die kind wees wat CA studeer het en die Kaap BA. Niks wel fout met ʼn BA graad nie, maar dit kom neer op houding. Nou natuurlik as jy met enige persoon ʼn gesprek oor die Kaap aanknoop is hierdie stad blykbaar maar net alles.

Daar is wyn, berge, nog berge en die see. ʼn Hat trick van ʼn stad. As hierdie nog nie genoeg vir jou is nie, is daar moontlik op elke gegewe tyd ʼn mark aan die gang waar jy outentieke leerprodukte kan koop. Is daar dan iets fout met my dat ek dink, en ook maklik sal sê, dat die Kaap maar net ‘okay’ vir my is? Die reaksies op mense (Kapenaar en nie) is altyd die interessantste. Ek verwys dalk na reaksies, maar wat al hierdie reaksies eintlik is, is oordeel.

Hoe durf ek die Kaap nou so in die gesig vat? Mense se reaksies is erger as wat dit sou wees as jy hulle politieke party aanspreek. Ja, die Kaap is verskriklik mooi en het baie om te bied, ek neem dit glad nie weg nie. Die ding is net, daar is meer aan Suid-Afrika as net die een provinsie.

Elkeen bring ʼn lekker, verskillende bykos na die braai. Ten spyte daarvan dat elke stad al ʼn goeie naam op hulle eie opgemaak het, word almal altyd deur die Kaap geboelie! Moenie laat mense jou oordeel en slegvoel omdat jy nie die Kaap se kant kies nie.

Staan jou mens en draai jou wang na die mynhoopberge wat ook mooi kan wees.

 

Rubriek geskryf deur: Mariëtte Sorgdrager
Foto’s: Shutterstock 

Back To Top
%d bloggers like this: