skip to Main Content
Beleef Italië Soos ’n Local

Rome, Venesië, Pisa…  As die land van pasta, rooiwyn en kaas nie op jou bucket list is nie – maak plan. Máár loop wye draaie om die gewone toeriste besienswaardighede…

La Dolce Vita – die soet lewe is stroper as soet in Italië as jy weet waarheen om te reis. Niemand raai jou af om op ’n gondola te vaar of ’n cliché foto te neem van jou reismaat wat die toring van Pisa omstoot nie. O, nee!

Onthou net: in Rome maak jy soos die Romeine. Toeriste word uitgebuit, staan in lang rye en sê dikwels les op in groot stede waar skelms aas op bewonderende uitlanders.

Trek jou mooi-moois aan en voeter die brosjure (en fanny pack) weg. Ontdek ’n Latteria en koop vir jou ’n egte stuk pecorino, tenerello of montasio. (Lekkerder kase as waaraan selfs Heidi in die berge kon peusel.) 

Vaar Italië in asof jy daar hoort! Ontdek die volgende nie-konvensionele plekke en voel jou Romeinse bloed (of wyn) deur jou are klop…

  1. San Daniele – die plek van die prosciutto. Kyk, Italianers is amper liewer vir anti-pasta (salami, kaas, prosciutto) soos pasta. Hou ’n leë kolletjie vir die lekkerste prosciutto in Italië en as jy die pond wil afstap vat ’n roete langs die glashelder Cornino meer.
  2. Lignano – sambreeltjie strand. Die Italië-stewel is omring deur see. Maak seker jy kom darem by ’n strand uit! Lignano spog selfs met Doggy Beach! So, as Wollie saam gereis het, kan julle saam gaan tan!
  3. San Galgano – die kluisenaar se kloosterkasteel. In die Toskane-vallei staan die klooster waarin San Galgano in ongeveer 1170 begin woon het. Die kasarm staan reeds vir eeue, sonder venster of dak en is steeds die herberg van Galgano se fantasie-agtige Sword in the Stone – sy teken van vrede.
  4. Straatmark in Codroipo – loop en eet, eet en loop. Koop wat die Italianers koop – oranje pampoenbrood, vars vis en anti-pasta wat jou mond laat water.
  5. Pozzecco – die dorpie sonder ’n winkel of skool. As jy gelukkig is vang jy die kostrokkie eenmaal per week in die piazza. Koekies, kaas, panatone en vars vrugte is altyd in voorraad. Families woon generasies lank in dieselfde villas en ry fiets begraafplaas toe.

Bring jou hond en wend jou Euros aan vir die lekkertes van Italië. Drink doodskok espressos, eet salami en maak ’n draai by elke mercato wat jy vind.

Wenk* Fietsry word sterk aanbeveel omdat die oefening en Gellato eet mekaar uit balanseer. 

Back To Top
%d bloggers like this: