skip to Main Content
Raakvatter-vrou Leef Haar Droom

BELLA gesels met ‘n dinamiese vrou wat uitblink in haar industrie en wys dat drome nog waar word.

As medestigter en -ontwikkelaar van Kgalagadi Lodge, sit Denise selde stil. Haar passie en oog vir detail is duidelik wanneer jy ’n besoek aan die lodge aflê.

Denise se liefde vir die gasvryheidsbedryf het reeds op die ouderdom van 16 posgevat toe skoolvakke soos toerisme en hotel haar ’n kykie in dié industrie gegee het. Sy was oortuig dat sy ’n plek van haar eie sal hê en haar droom is bewaarheid toe sy en haar man, Sarel Jacobus, vyf kilometer van die Kgalagadi-vredespark ’n lodge opgerig het.

 

  1. Watter raad sal jy aan jou 16-jarige self gee?

As ’n 16-jarige is jy naïef en jy het al hierdie groot drome, maar jy besef nie die moeite en harde werke wat vereis word om ’n sukses van jou droombesigheid te maak nie. Dit is nooit te vroeg om raad te soek of jouself op te voed oor dit waarvoor jy lief is om te doen nie. Dit is belangrik om die verskil te ken tussen realiteit en drome. Ek dink wat ek eintlik probeer sê, is volg jou drome, maar analiseer en maak seker dit is realisties en bereikbaar, doen jou navorsing en vra raad van kundiges.

  1. Wat motiveer jou in die lewe?

Om te sien hoe ons besigheid jaarliks groei, om te kyk na die verskeie fases wat ons deurgaan en om die resultate van al die harde werk te sien.

Die komplimente wat ons van gaste ontvang is definitief een van die grootste dryfkragte en mees bevredigende gevoelens.

  1. Wat het jy oor jouself geleer terwyl julle in a karavaan gebly het vir vier maande terwyl julle die lodge gebou het?

Ek het geleer om die kleiner dinge in die lewe te waardeer, dinge wat ons as vanselfsprekend ervaar elke dag. Soos ’n badkamer met ’n warm stort, iets waaraan ons so gewoond is, maar ons besef dit eers wanneer dit nie meer beskikbaar is nie. Dit het my ook laat besef om groot dinge te bereik moet jy bereid wees om opofferings te maak en na die groter prentjie kyk. Dit laat jou besef dat dit nie die gewone dinge in die lewe is wat herinneringe skep nie, soms is dit die uitdagings wat jy nooit sal vergeet nie.

  1. Wat onderskei Kgalagadi Lodge van ander lodges?

Die feit dat dit ’n luukse lodge in die hart van die Kalahari is, wat vars produkte, hoë kwaliteit diens en uitstekende akkommodasie bied.

Kgalagadi Lodge het ook nie hektye soos in die park nie wat dit moontlik maak vir besoekers, wat van ver reis, om later in te boek en die park reeds vroegoggend binne te gaan. Gaste wat die park verlaat kan nou ’n volle dag in die park spandeer en het akkommodasie vyf kilometer van die park.

Ons verkoop ook ’n groot verskeidenheid vars produkte, vrugte en groente, varsgebakte brood en vleis teen billike pryse.

  1. Wat hou die toekoms in vir jou?

Eerstens om die lodge op ’n punt te kry waar al die sisteme op so ’n manier funksioneer dat die bestuur maklik en nie tydrowend sal wees nie en dat die sisteme in so ’n manier funksioneer dat dit maklik is om te elke departement se kontantvloei en voorraad te monitor. Nadat ons dit bereik het, sal ons met ’n nuwe projek wil begin.

Ek sal ook daarvan hou om ’n kursus in binnenshuise versiering en ontwerp te neem. Ek geniet dit om te help met die chalets se ontwerp en versiering en wil graag nuwe projekte aanpak.

Lees meer oor Kgalagadi Lodge: http://www.kgalagadi-lodge.co.za/

 

Geskryf deur: Heloïse van Huyssteen

 

Back To Top
%d bloggers like this: