skip to Main Content
Per Ongeluk ’n Entrepeneur

Meghan Werner wat die Theonista handelsnaam het, het sonder dat sy besef het, bewys dat ’n formele kwalifikasie in besigheidstudies of entrepreneurskap nie die enigste weg tot sukses in die besigheidswêreld is nie.

Met ’n wêreld wat al meer begin fokus op ’n gesonde leefwyse en welstand, is dit dalk om die term, kombucha, deel van jou woordeskat te maak. Kombucha, wat uitgespreek word as “kom-boo-chuh”, is ’n natuurlike drankie wat glo talle gesondheidsvoordele inhou.

Meghan Werner glo dat sy perongeluk as entrepreneur uitgedraai het. Haar besigheid, Theonista, was nie werklik beplan nie en nooit het sy gedink dat iets wat eintlik net ’n stokperdjie was, as ’n “regte besigheid” sou uitdraai nie.

Haar oorspronklike wortels is eintlik in Seattle en sy het haar professionele opleiding in openbare gesondheid en openbare beleid, by die Universiteit van John Hopkins in die VSA, voltooi. Ná ’n projek wat sy in Lesotho moes inpak, het sy in Kaapstad gaan woon. Hiér kon sy nêrens kombucha tee (haar wondermiddel vir ’n gesonde spysverteringstelsel) van goeie gehalte vind nie. Sommer gou, het Meghan ’n plan gemaak en haar eie kombucha tee begin brou. “Ek was nog altyd geïnteresseerd in gesonde en natuurlike kossoorte, en ek het eenvoudig in my kombuis begin eksperimenteer – sommer vir die lekker!” vertel Meghan.

 Nadat ’n vriend van haar ’n SCOBY uit Amerika gebring het, kon sy uiteindelik haar eie kombucha tee begin vervaardig. (SCOBY staan vir: Symbiotic Culture of Bacteria and Yeast – ’n tuiste vir bakterië en gis, wat tee en suiker in iets soos ’n gaskoeldrank omskep.) Haar vriende en kennisse het vinnig belangstelling getoon en voor sy haar oë kon uitvee het winkels aan haar deur kom klop om dié wondermiddel op hul rakke te hê.

Sy moes aanvanklik baie uitdagings in die gesig staar en basies elke aspek van die besigheidswêreld ontdek: “Van bestanddele, verpakking, die registrasie van ’n besigheid tot die verspreiding van my produkte (ja, ek het op my fiets begin…),” vertel sy. “Maar uitdagings en struikelblokke is nie noodwendig sleg nie – ek sien dit as geleenthede om te groei en jou karakter en menswees te ontwikkel,” meen Meghan.

Ten spyte van die feit dat daar vandag ’n groot aanvraag vir hierdie produk is, glo hulle steeds in die “kleinmaat produksieproses”. Hierdie proses lewer eenvoudig kwaliteitprodukte. Hulle maak en bottel alles steeds met die hand, by hul aanleg in Woodstock en versprei dit dan na Kaapstad en ander areas in Suid-Afrika. Die Theonista handelsmerk het eers gluten- en suiwelvrye sjokolades verkoop en vandag maak hulle ook ander organiese produkte soos outydse gemmerbier en suiwelvrye drankies. “Ek raak so opgewonde oor produkte waarin ek glo en wil dit graag met ander mense deel,” sê Meghan.

“My grootste uitdaging is beslis om die produk se vinnige groei op die regte wyse te bestuur – dit is belangrik om steeds ons integriteit en kwaliteit agter die handelsnaam te beskerm,” sê Meghan. “Bigger isn’t always better, maar dit is beslis ’n aanduiding van hoe die aanvraag vir hierdie tipe produkte begin groei.”

Hoe werk die kombucha-proses?

Kombucha word gemaak deur tee en suiker met ’n SCOBY te fermenteer. Die meeste van die suiker word tydens die fermenteringsproses deur die SCOBY opgeneem en kan ’n ongelooflike effek op jou liggaam se gesondheid hê: ’n gesonde spysverteringstelsel, hope energie, asook ’n gesonde vel en hare. Verskeie tipes organiese tee van regoor die wêreld en slegs 100% egte vrugte, wortels en botaniese uittreksels word gebruik. Dus, geen kunsmatige geure, kleursels óf preserveermiddels nie. Die smaak van haar produk kan beskryf word as “sweet-tart-tangy-zippy”, met ’n ligte fizz en word as ’n koue drankie geniet. Die verfrissende drankie is propvol probiotika, organiese ensieme, vitamines en minerale. “Drink dit! Jou liggaam sal jou ewig dankbaar wees,” meen Meghan natuurlik.

Kombucha on Tap is reeds by Clarkes, The Loading Bay en by Welness Warehouse by Cavendish Square beskikbaar. Meghan se plan is om dié On Tap-konsep te laat groei in Suid-Afrika. Die idee is dat kombucha as alternatief vir alkoholiese drankies by restaurante en kroeë gedrink kan word en dan ook beskikbaar by verskeie gesondheidswinkels sal wees.

“Daar is geen waarborg óf veiligheidsnette in die lewe nie – so pak eenvoudig die uitdaging aan,” sê ’n vasberade Meghan. “Om ’n besigheid te begin gáán baie verg en dit gáán uithouvermoë en toewyding vra, en soms gaan dinge dol wees! Wees voorbereid om soms opofferings te maak – tot voordeel van jou besigheid – maar prioritiseer ook dit wat vir jou belangrik is en maak tyd vir dít wat jou krag en moed gee,” sê sy.

*Die artikel verskyn in die September-uitgawe van BELLA! Kry tips by ons suksesredakteur om meer gemotiveerd en suksesvol in die besigheidswêreld te wees.

Geskryf deur: Anica Scholtz

Foto’s: Verskaf

Back To Top
%d bloggers like this: