skip to Main Content
Vrou Tot Vrou: Finansiële Bemagtiging

Vroue moet hul finansiële kennis met mekaar deel om ’n kultuur van finansiële geletterdheid onder vroue regdeur Suid-Afrika te skep.

#LiefsteBELLA het gaan uitvind wat vroue kan doen om hul finansiële posisie te vebeter. Finansiële geletterdheid en die vermoë om ingeligte besluite oor geld te neem, is ’n vaardigheid waarna elke individu moet streef om te hê.

Hierdie bekwaamheid is egter veral belangrik vir vroue wat steeds aansienlik minder verdien in die werksplek as
mans.

Nosibusiso Ngqondoyi, hoof van plaaslike en globale eiendoms- en verskansingsfondse by Old Mutual Multi Managers, glo die antwoord tot finansiële geletterdheid lê in kommunikasie rondom finansies.

“Om die samelewing te transformeer om hul finansies beter te bestuur, is almal se verantwoordelikheid, maar vroue moet dit veral goed bestuur omdat hulle dikwels die enjins is wat baie huishoudings aan die gang hou,” sê Nosibusiso.

Daar is ’n magdom faktore wat ’n impak het op ’n vrou se vermoë om haar finansies te bestuur soos stadige ekonomiese groei, hoë vlakke van werkloosheid en in sekere gemeenskappe, armoede as gevolg van sosio-ekonomiese probleme.

’n Studie deur die Universiteit van Johannesburg toon dat ’n Suid-Afrikaanse vrou twee maande meer as ’n man moet werk om die ekwivalente salaris te verdien wat hy in ’n jaar sal verdien. Nosibusiso meen die grootste uitdaging wat vroue moet oorkom is onmiddellike bevrediging en die drang om iets onmiddellik en ten alle koste bekom.

Hier is ’n lys van praktiese stappe was vroue kan neem om hul finansies beter te bestuur:

  • Vind kreatiewe maniere om jou uitgawes te verminder en jou inkomste te verhoog
  • Betaal jou skuld en vermy nuwe skuld waar moontlik
  • Betrek ander vroue in jou gemeenskap en ondersoek moontlike entrepreneursgeleenthede
  • Wees ’n rolmodel en leer goeie finansiële waardes vir jou kinders

Ons vroue praat gereeld met mekaar oor werk, make-up en familie, maar dit is tyd dat ons oor geld begin praat. As jy die geleentheid het om iemand in jou onmiddellike netwerk met finansiële kennis te bemagtig, gryp dit met albei hande aan!

 

Saamgestel deur Zara Steyn
Bron: MSL
Foto’s: Shutterstock

Back To Top
%d bloggers like this: