skip to Main Content
Verhoed So Dat Jy Die Feesseisoen Platsak Raak

Dit is elke jaar dieselfde storie – na al die Kersgeskenke, vakansies en lekker kos betaal is, is jy platsak. Dit is nie nodig om elke jaar oor Desember al jou geld uit te gee nie.

Die feestyd is net om die draai en die meeste van ons tel die dae tot die vakansie af, maar dit is ook wanneer mens al jou geld uitgee. Voor jy jou oë uitvee is dit 2019 en jou bankrekening is leeg! Volg hierdie wenke om die feesseisoen te geniet en om nog geld oor te hou vir die lang Januariemaand:

1. Die sleutelwoord is om te begroot

Bepaal vooraf hoeveel geld jy gedurende die feestyd sal nodig hê. Bepaal hoeveel geld jy het om te spandeer en hoeveel jy wil uitgee op uitgawes soos kos, akkommodasie, vermaak, geskenke en brandstof. Maak ook seker jy sit ’n paar rand weg vir noodgevalle, want voorsorg is altyd beter as nasorg.

2. Wees slim oor jou geskenke

Die feesseisoen is ’n tyd vir gee, maar in plaas daarvan om duur en groot geskenke te koop, gaan loer op Pinterest vir oulike en goedkoop DIY-idees vir geskenke. Familie en vriende sal die ekstra tyd wat jy geneem het om ’n unieke geskenk spesiaal vir hulle te maak, meer waardeer as ’n duur en onpersoonlike geskenk.

3. Koop jou groceries voor die feesseisoen

Koop noodsaaklikhede soos suiker, meel en olie vooraf, want dié produkte se kostes kan moontlik die hoogtes inskiet in die feestyd. As jy met vakansie gaan, vermy restaurante en beplan jou etes. Neem nie-bederfbareprodukte en gevriesde vleis saam met jou, want aan die kus gaan jy aansienlik meer vir ’n tjoppie betaal as in die binneland.

 

Saamgestel deur Zara Steyn
Foto’s: Shutterstock
Bron: MiWay 

Back To Top
%d bloggers like this: