skip to Main Content
Verdrink In Die Skuld?

Is jy besig om amper kop onderwater te spartel om jou skuld te betaal? Liefste BELLA het raad!

Dis nie altyd moontlik om realisties, of eerlik, na jou geldsake te kyk nie. Dis amper asof jy te naby aan die saak staan. Maar die sirkel van skuld-en-leen-en-betaal-en-skuld is nimmereindigend.

Om jouself uit die skuldgat te laat klim is nie onmoontlik nie, maar jy het ’n strategie nodig. WesBank se raad is om te begin by die assessering van die probleem. Eers as die stap afgehandel is, kan jy kyk na toepassing en aksie van die plan.

Statistiek toon dat meer as 11 miljoen kredietaktiewe Suid-Afrikaanse verbruikers te veel skuld het. Die grootste deel van die skuld (94%) is persoonlike lenings, 84% as gevolg van onverantwoordelike gebruik van kredietkaarte en 76% as gevolg van winkelkaarte.

Hoe weet jy of jy te veel skuld?

As jy deur kredietverskaffers gejaag word wat beweer dat jy die volle agterstallige bedrae op jou rekening moet betaal anders gaan regstappe gevolg word; wanneer jy geld leen om ander skuld te betaal; met jou kredietkaart en/of oortrokke fasiliteit skuld te betaal; of wanneer jy betalings op een rekening vermy om ander rekeninge te betaal moet jy weet dis alles rooi vlae wat wys dat jy té veel spandeer het.

Weet waar jy staan!

Kry ’n kopie van jou kredietrekord om 100% seker te maak hoe ernstig die saak is. Jy kan die rekord een mal per jaar verniet by enige groot kredietburo aanvra. Dan moet jy na jou begroting gaan kyk en ’n plan maak om uit die skuldgat uit te kom. ’n Goeie plan is om ’n  50/30/20-split in jou begroting te maak. 50% vir benodighede of noodsaaklikhede (dit sluit jou huislening en motorpaaiement en minimumbedrae op kredietkaartagterstalligheid in). 30% is vir diskresionêre spandering – soos selfoonkontrakte, ens. En 20% gaan na jou noodfonds toe.

Wees eerlik met jouself

Indien jou besteebare inkomste nie voldoende is om al jou kontraktuele verpligtinge na te kom nie, en jy weet dat jy nie al jou skuld in tyd sal kan betaal nie, moet jy om professionele skuldverligting aansoek doen. Die slegste ding wat jy op hierdie stadium kan doen, is om uit te stel, want hoe verder agterstallig jy raak, hoe meer boetes moet jy betaal, wat net die probleem vererger. En as ’n vorm van skuldinvordering reeds op die rekening begin het, sal regskoste ook daardie balans vererger. Jou kredietrekord sal opgeskort word, meer krediet sal onmoontlik wees om te verkry, en jy kan selfs jou motor, jou huis of ander waardevolle bates verloor.

Maak dus seker dat jy jouself nie aan die verkeerde kant van die balansstaat bevind nie!

 

Bronne

www.Wesbank.co.za

www.creditreportsa.co.za

www.transunion.com

www.experian.com

www.compuscan.co.za

Back To Top
%d bloggers like this: