skip to Main Content
#Lifehacks Om Op ’n Klein Salaris Te Oorleef

Een van die grootste uitdagings van die grootmenslewe is om ’n hele maand lank met jou salaris uit te kom. #LiefsteBELLA het gaan uitvind hoe jy jou rande kan rek.

Begin jy al die dae tot die volgende payday aftel sodra jou salaris inbetaal is? Besef jy teen die einde van elke maand dat jy net brood en water kan bekostig met dit wat in jou bankrekening oor is? Dit is ’n algemene probleem, want hoewel alles om ons duurder word, groei ons salarisse nie soos wat die uitgawes vermeerder nie én boonop is ons vroue lief vir shop en ’n nuwe salaris is die perfekte verskoning om te splurge. Dis net totdat jy besef jy moet die res van die maand nog eet ook.

Die geheim is om spaarsamig te wees met jou salaris en om bietjie-bietjie te gebruik tot jou volgende payday. Die grootste verandering begin by jouself, dus is jou eerste stap tot ’n beter bankbalans om jou leefstyl te herevalueer. Kan jy die Vogue sonbrille en designer handsak wat jy wil koop bekostig met jou salaris? Herdefinieer jou geluk deur dinge te waardeer wat geld nie kan koop nie. Verruil jou duur Woolworths inkopies vir die nuutste specials by Checkers of Pick ‘n Pay, niemand weet in elk geval waar jy jou inkopies doen wanneer dit in jou kruidenierskas staan nie.

Maak dan ’n lys van alles wat jy wel dié maand moet betaal. Deur te begroot kan jy jou kontantvloei aanpas volgens jou toekomstige finansiële verantwoordelikhede en dan kan jy dalk nog ’n paar rand aan die einde van die maand afknyp vir ’n sexy paar hakke.

Nog ’n manier om jou salaris langer te laat hou is om te leer om ‘nee’ te sê vir versoekings soos om duur drankies te gaan drink of om kaartjies te koop vir ’n konsert wat jy nie eintlik kan bekostig nie. Daar is nog baie tyd in die toekoms vir jou om die lewe te geniet.

Dit is altyd ’n uitdaging om geld binne perke te bestee, maar as jy regtig gemotiveerd en gefokus is op jou doelwitte, kan jy baie ver kom met jou salaris. Onthou net dat jy jouself nie totaal hoef te ontneem van alles wat lekker is in die lewe nie, maar beplan en begroot eerder daarvoor.

 

Saamgestel deur Zara Steyn
Foto’s: Shutterstock
Bron: MoneyMax.ph 

Back To Top
%d bloggers like this: