skip to Main Content
Dit Wérk Om Weg Te Werk

Co-working is niks nuut nie, maar die buzz van dié woord verras steeds sekere base wat jou steeds in die kantoor wil hê. Maar hoe affekteer dit produktiwiteit?

Dit word al hoe meer bewys dat in-die-kantoor-werk nie meer noodsaaklik is vir baie beroepe nie, al wil die ouer garde dit nie eintlik hoor nie. Kemble Morgan, Afrika Bestuurder van Young Living Essential Oils, sê:  

“Die vierde nywerheidsrevolusie is tans ’n buzz word. Ongelukkig vrees diegene wat op hul lessenaars staatmaak hierdie stelling, omdat selfvoldaanheid in hierdie tye oortolligheid kweek. Ek glo vas aan aanpasbaarheid en om current te bly – dit, tesame met vasberadenheid en vasbyt, is hoe suksesvolle entrepreneurs regoor die wêreld daarin geslaag het om hul drome te verwesenlik en werk te skep. As ’n professionele persoon, kan jy jou dienste vryskut aanbied en baie meer geld daaruit verdien as wat jy met ’n nege-tot-vyf werk kan doen.

Dis egter nie altyd so maklik om stoksielalleen by die huis te sit en werk nie. Jou aandag kan maklik afgelei word deur huistake, of daai Netflix reeks wat jy nou al dae lank binge watch. Dis waar co-working ’n goeie idee is – jy voel nie so geïsoleer as jy tussen mense werk nie, en die kultuur van werk wat geskep word, al is almal nie by dieselfde maatskappy betrokke nie, is motiverend en sal jou oer-oue drang na sosialisering bevredig.”

Volgens Become Nomad is daar ook finansiële voordele van co-working kantore – nie net spaar dit jou baas geld nie, maar jy kan ’n co-working kantoor kies wat baie naby is aan jou huis – wat tyd in die verkeer, brandstofkoste en slytasie aan jou kar verminder. Daar is ook vele netwerkgeleenthede in dié spasies, aangesien jy met mense van alle velde en maatskappye te doen het wanneer jy daar gaan werk.

Moet dus nie huiwer om vandag nog jou baas te nader om te vra of jy “Remote” kan werk nie – al is dit net ’n paar dae per week. En indien hy twyfel – kan jy die voordele van co-working gaan Google – as hy eers sien wat dit vir produktiwiteit en sukses beteken, gaan hy moeilik “nee” sê.

Kemble beaam die suksesse daarvan: “Die waarheid is, nie almal is uitgeknip vir ’n kantoorwerk nie. Dit maak jou glad nie ’n mislukking nie. Dit maak jou ’n suksesvolle baanbreker. Die enigste ding is, jy het dit nog nie ontdek nie.”

 

Bronne:

  • NYtimes.com
  • Becomenomad.com
Back To Top
%d bloggers like this: