skip to Main Content
Wonderweke En My Wonderwerkie

Volgens die navorsing is daar 10 voorspelbare tye in jou baba se eerste twee jaar wanneer sy “moeiliker” as gewoonlik gaan wees.

Miljoene ouers wêreldwyd volg hul raad. Frans Plooij en Jetty van de Rijt, ’n Nederlandse egpaar wat albei dokters is, het breedvoerig navorsing oor babaontwikkeling gedoen en toe ouers van regoor die wêreld aan die praat gehad met hul boek: The Wonder Weeks.

Waaroor gaan die boek:

Volgens die navorsing is daar 10 voorspelbare tye in jou baba se eerste twee jaar wanneer sy “moeiliker” as gewoonlik gaan wees. Hierdie moeiliker tye word wonderweke genoem waarin babas van hul wêreld probeer sin maak en groot fisiese en emosionele ontwikkelingsfases deurmaak.

Onthou: Die wonderweke word bereken volgens jou baba se verwagte datum en nie geboortedatum nie.

Wonderweek van sensasies (tussen vier en vyf weke)

Jou baba stel nou meer in die wêreld belang en kan moontlik ’n bietjie verder sien. Sy glimlag vir ander mense en reageer op jou nabyheid. Sy is ook ’n bietjie meer wakker.

Wonderweek van patrone (tussen sewe en nege weke)

Na die wonderweek ervaar jou baba nie meer die wêreld as een voorwerp nie. Sy begin patrone raaksien en raak ook meer bewus van haar hande. Sy gryp na speelgoed, beweeg haar lyf vorentoe en draai haar kop in die rigting van geluide.

Wonderweek van gebeure (14 tot 19 weke)

Jou baba kan nou die meeste van haar sintuie aanwend. Na die wonderweek is sy moontlik meer aktief en sy kan die bors wegstoot wanneer sy genoeg gedrink het.

Wonderweek van verhoudings (22 tot 26 weke)

Jou baba begin nou mens word! Baba besef na die wonderweek hoe groot die wêreld eintlik is en toon ’n lewendige belangstelling in alles om haar: Mense wat vir haar sing of handjies klap trek haar aandag en sy sal ook moontlik voorwerpe oplig om te sien wat daaronder is.

Wonderweek van kategoriee (33 tot 37 weke)

Jou baba sal na afloop van die week moontlik woorde begin verstaan. Jou naboots, handjies klap en kruip. Sy begin leer dat daar ’n verskil is tussen voorwerpe. Jou baba kan nou dinge sien, vergelyk en klassifiseer.

Lees meer oor wonderweke tot en met twee jaar in die boek, The Wonder Weeks of koop die toep.

 

Bronne: 
The Wonder Weeks, Frans Plooij, Jetty van de Rijt (Oei, ik groei!)
thewonderweeks.com
The Wonder Weeks (app op selfoon)

Back To Top
%d bloggers like this: