skip to Main Content
Welkom Boetie!

Jul is die trotse ouers van ’n nuwe baba – en ’n jaloerse peuter. Volg die wenke om jou oudste kind minder onseker te laat voel.

Voorbereiding

  • Berei jou oudste kind so gou as moontlik voor. Vertel vir hom dat ’n nuwe baba een van die dae deel van jul gesin gaan wees.
  • Laat sussie aan jou groeiende boepie vryf en hallo sê vir die nuwe baba.
  • Neem haar gerus saam wanneer jy vir ondersoeke gaan. Laat haar na die hartkloppie luister.
  • Laat haar saam met jou inkopies doen en self ’n pakkie vir baba uitkies. Sy kan ook help om baba se kamer te verf.
  • Koop ’n pop en wys haar hoe om doeke te ruil – vertel haar jy gaan dit met baba doen en moedig haar aan om dit self te doen.
  • Sê gereeld vir haar: Sjoe, jy gaan ’n oulike ousus vir baba wees!
  • Verseker haar steeds daagliks van jou liefde en dat sy altyd ’n spesiale plekkie in jou hart sal hê.

Hospitaal toe

  • Vra jou oudste om jou te help om jou hospitaaltas te pak.
  • Verduidelik vir haar dat jy ’n paar dae in die hospitaal gaan wees en dat Pappa/Ouma baie mooi na haar sal kyk.

Die eerste ontmoeting

  • Maak seker jy verwelkom jou oudste met ope arms.
  • Stel haar voor aan die nuwe baba.
  • Wenk: Koop ’n present en sê dat baba dit spesiaal vir haar saamgebring het.

Huis toe

  • Help haar om deel van alles te wees – as gaste na baba kom kyk laat sy hulle wys waar baba doedoe.
  • Moedig kommunikasie aan: “Sing vir boetie ’n liedjie, hy hou baie daarvan as jy so mooi sing.”
  • Hou waar moontlik by jul vorige roetine!
  • Gebruik die kans as baba slaap en spandeer kwaliteittyd saam met jou oudste.

Die belangrikste van alles? Sy kan dalk voel dat die nuwe baba haar spesiale plekkie in jou lewe gaan inneem. Vertel haar elke dag hoe lief jy haar het!

 

Bronne: whattoexpect.com, babycenter.com

Back To Top
%d bloggers like this: