skip to Main Content
Refluks Raad (want Alle Babas Spoeg)

Bekommerde Mamma – hier is raad. 

Wat is refluks?

Refluks is as melk of kos wat in die maag is tot in die slukderm opstoot.  Refluks is normaal, as jou baba mooi groei en gelukkig is.

Reflukssiekte kan onstaan as die refluks meer gereeld as normaal is en dus probleme veroorsaak. Dit kan veroorsaak dat baba nie gewig aansit nie, buitengewoon baie huil of selfs voedings weier. As jy vermoed jou baba het reflukssiekte moet jy eerder jou pediater raadpleeg.

Reflukssiekte of net ’n spoegbaba – díe wenke van Catherine de Wit, geregistreerde verpleegkundige en eienaar van haar eie babakliniek in Secunda, kan jou baba help:

1. Gee jou baba kleiner, maar meer gereelde voedings. Dit maak dit makliker vir baba om voedings te verteer.

2. Hou jou baba semi regop of in ’n sittende posisie tydens voeding; hou jou baba ook direk na ’n voeding sowat ’n halfuur lank so stil as moontlik.

3. Maak seker baba suig goed vas aan die bors/bottel. Dit voorkom dat baba onnodige lug/winde sluk, want winde kan die melk maklik laat uitkom.

4. Vryf windjies gereeld uit. Laat sy eerder op jou been sit in plaas van oor jou rug hang.

5. Vermy styfpassende klere wat onnodige druk op baba se magie kan plaas. Maak ook seker dat haar doek nie te styf om haar magie span nie.

6. Borsvoed mammas – vermy eerder kaffeïene, dit kan refluks vererger.

7. Dra gerus jou baba in ’n drasak – baie mammas vind dat dit refluks verbeter.

8. Belê gerus in ’n skuins kussing waarop jou baba kan slaap. Die kussing lig baba se bolyf en kan refluks verlig.

9. Indien jou baba op refluks medikasie is moet jul gereeld die pediater besoek, sodat die medikasie se dosis aangepas kan word, soos wat baba groei.

10. Ontspan Mamma! Meeste babas wat spoeg is gelukkig en kry geen probleme nie. Byt vas en reël kuierafsprake met ander Mammas (wie se babas ook baie spoeg)!

 

BRONNE:

Catherine de Wit het ’n honneursgraad in gevorderde verloskunde en neonatologie. Sy is ook ’n mamma met ’n passie vir moeders, babas en borsvoeding. Sy bestuur tans haar eie babakliniek: Secunda Baby Centre.

 

Back To Top
%d bloggers like this: