skip to Main Content
Bobaas Pa’s Maak So

Vadersdag is sopas verby en Pappas is deesdae meer hands-on as ooit! BELLA het gaan navorsing doen oor die dinge wat goeie Pappas doen voor baba se koms en daarna…

Die Amper-Pa

Wat amperpa’s vir Ma kan doen:

  • Nek- en skouermassering

Mammas stres! Gedagtes waaraan pappa nog nie eers gedink het nie, flits daagliks deur haar brein: Bors of bottel? Dummie of duimpie? Baba se kamer en vele meer! ’n Nek- en skouermassering kan wondere verrig!

  • Abdominale aanraking

Amper-pa’s voel maklik uitgesluit. Smeer gerus room aan Mamma se boepie en gesels met baba. So bou jul ’n band en bederf vir Mamma.

  • Hand- en voetmassering

Die ekstra gewig maak mammas se voete moeg om nie eers te praat van geswelde voete en hande nie. Gryp ’n cooling leg gel, sit jul gunsteling TV-reeks aan en vryf haar voete!

  • Emosionele ondersteuning

Blameer die hormone, maar swangerskap is nege maande van wipplank emosies. ’n Goeie amper-pa ondersteun Mamma, al tree sy soms effens onredelik op. #growingahumanishardwork

Die nuwe Pappa

Pappa se andersheid maak hom die perfekte maat om klein mensies groot te maak.

  • Pappa is sterk

Pappa sal jou ’n bietjie hoër swaai en nog vinniger op jou skopfiets stoot! Navorsing bewys dat pappas “rowwer” speel as Mammas. En dis ’n goeie ding! Pappas moedig meer riskante gedrag aan, terwyl Mammas geneig is om te beskerm. Dit kweek waagmoed wat nodig is vir ’n gebalanseerde leefstyl.

  • Pappa se stories is die beste

Kan dit wees? In ’n jaarlange studie by die Harvard-universiteit is bevind dat kinders meer voordeel daaruit trek as pappa vir hul stories lees as wanneer ma dit doen. Die rede? Ma’s fokus meer op karakters se gevoelens en feitelike vrae, terwyl pappa se storie lei tot meer verbeeldingryke besprekings.

  • Pappa is cool

Pa’s het oor die algemeen ’n meer ontspanne benadering as Ma’s. Knie nerfaf geval? Plak ’n pleister op! Kleuter op ’n eetstaking? Hy sal wel eet as hy honger is.

Pa is boonop altyd gereed vir speel! #daddycool

  • Pappa maak my slim!

Vele studies toon dat as pa betrokke is, kinders beter vaar op skool!

  • Pappa hou my in toom

Navorsing het bevind dat ’n pa in baie gesinne die een is wat die dissipline handhaaf, terwyl Ma’s meer geneig is om te onderhandel.

Het jy gehoor? ’n Doekruilstasie is nou ’n moet in mansbadkamers! Hoekom? Want Pappas ruil ook doeke!

Onthou: Ouerskap is nie ’n kompetisie nie en ma en pa se bydrae is bedoel om mekaar aan te vul. ’n Betrokke pappa hoef ook nie noodwendig by sy kinders in die huis te woon nie, maar sy betrokkenheid kan steeds ’n verskil maak.

Pappas het ’n spesiale krag, hiep hiep hoera vir betrokke Pa’s!

 

BRONNE:

https://www.livescience.com/

https://www.beingtheparent.com/things-dad-do-better/

https://www.daduniversity.com/top-9-reasons-why-dads-are-better-than-moms-mother-vs-father/

Back To Top
%d bloggers like this: