skip to Main Content
Goeie Maniere Maak ’n Comeback

Beleefde kinders is oral welkom, só leer jy towerwoorde vir jou kind aan.

Etiket met Emsie is dalk uit die oudtyds, maar elke ouer wil steeds hê dat hul kind gepas optree binne sy eie kultuur en dat hul kind goeie maniere moet hê. Asseblief en dankie gaan nooit uit die mode uit nie! Leer die vaardighede vir jou kind sommer al van babadae af.

Só maak mens:

  • Stel ’n goeie voorbeeld

Kinders sien baie meer as wat jy besef. Jy kan nie verwag jou kinders moet goeie maniere hê as die woorde asseblief en dankie nie in jou woordeskat bestaan nie. Onthou ook dat beleefdheid verder strek as jul huis. Hoe praat jy met kelners, petroljoggies en ander motoriste op die pad?

Wees bewus van hoe jy met mense praat, die spreekwoord lui nie verniet: “Kleine muisies, grote ore.”

  • Herhaal, herhaal, herhaal

Kinders leer deur herhaling. As jou kind vra vir koeldrank, vra vir hom: “Hoe vra jy?” of “Wat is die towerwoord?” Jy gaan dit tien teen een herhaal tot jy blou is, maar aanhouer wen!

Dit sal later outomatiese gedrag by jou kind wees.

  • Wees versigtig vir kritiek

Positiewe dissipline is die antwoord! Prys jou kind wanneer hy wel die towerwoorde gebruik. “Sjoe, jy vra so mooi, ek kry dit sommer dadelik vir jou!”

Moenie die huis in ’n strafkamp vir goeie maniere omskep nie. Dit moet vir jou kind lekker wees om homself goed te gedra.

  • Gesels oor kulturele verskille

In ons reënboogland is daar beslis verskillende maniere van doen. Party kulture vermy oogkontak, ander moedig dit aan.

Die goue reël: Respekteer jou medemens.

  • Fantasiespel is ’n fees

Kinders leer deur speel. Drink saam met jou dogtertjie tee en gebruik die woorde soos asseblief en dankie. Speel-speel leer jou kind goeie maniere en dit sal hul nog eendag baie baat.

Mary Wortley Montague, ’n Britse skrywer sê: “Goeie maniere kos jou niks, maar bring jou baie.”

 

BRONNE:

http://www.sagechildcare.edu.au

https://www.askdrsears.com/topics/parenting

 

Back To Top
%d bloggers like this: