skip to Main Content
Skep ’n Natuurlike Habitat Vir Nemo In Jou Huis.

As mens is ons aangetrokke tot water. Waterlewe fasineer ons só dat ons selfs glo in Little Mermaids met lang, pers hare en skulpie-bra’s.

Vergeet eerder van halfvis-halfmens en kry vir jou volle vis. ’n Tenk vol swemmertjies sal jou stres verminder, bloeddruk verlaag en kalmeer! Toekomstige vis-ouers moet wel deeglike navorsing doen voor hulle vir Nemo en Dory huistoe bring. Moenie net die eerste, mooiste vis in die petshop kies wat die hoogs opgeleide personeellid aanbeveel het nie! Na-aap die werklikheid in jou akwarium.

Elke tipe vis is uniek. Sommige verkies bodemklippies. Ander hou van ’n rotsagtige habitat. Beligting is net so belangrik. Hou die natuur ingedagte. Sommige visse swem dieper, in donkerder water. Ander geniet die lig. Direkte sonlig kan nie net Bubbles in ’n bokkom verander nie, maar stimuleer ook die alge om te groei.

Let ook daarop dat jy nie jou vis te veel kosgee nie. (Steek die visvlokkies weg sodat kuiermense nie ook luskry om die vis te voer nie). Anemoonvisse (Nemo’s) verkies soutwater akwariums met ongeveer 75 liter water. Raai wat? ’n Doodgewone goudvis kort ook 75 liter! Geen wonder ou Flounder swem na ’n paar dae onderstebo nie. Geteel in die petshop of de nie – geen vis moet in ’n slaaibak swem nie. Dis onmenslik. Nee – onvislik. Vir elke ekstra goudvis benodig jou akwarium nog ongeveer 38 liter. Hoe meer vissies, hoe meer water. As jy ’n nuwe vis kry of die akwarium gewas het, moenie dadelik die vissie terugsit in die skoon water nie. Die water moet eers stabiliseer.

Onthou dat kraanwater chemikalieë bevat – wat noodlottige gevolge vir jou vis kan hê – en dis nie nodig om nog ’n spesie te bedreig nie! Doen deegelik navorsing – en jou vis sal lank en gelukkig swem.

 

Bronne: pethelpful.com, peta.org, completegoldfishcare.comliveaqaria.com, thesprucepets.com

 

Back To Top
%d bloggers like this: