skip to Main Content
Moet Ek Adopt Of Shop?

Al wat ’n shelter is se gunstelingslagspreuk lui: Adopt – don’t shop! Opregte blinkpels of growwehaar gesiggie – wat kies jy?

Wetnose, Wollies, Woodrock… Die lys van instansies vir hawelose troeteldiere is hemelslank. As dit tog maar net hemel was…

Elke hond kry sy dag. Hond wel, mens – nie noodwendig nie. Is dit regtig so maklik om ’n troeteldier weg te gee as jy trek en nie meer plek het nie. Die leesstof oor die onderwerp is sonder twyfel ten gunste van aanneming. Maar ons moet verder dink as aanneming. Gaan dit die probleem vir ewig oplos? Hopelik gaan verantwoordelike telers (met harte) wat goeie gene en suiwer bloedlyne teel gesonde verstand aan die orde van die dag sit en die produksielyne stopsit. Onverantwoordelike telers (wat reeds ’n groot bydraer tot oorvol shelters is) gaan definitief nie vir Kolle die gekondenseerde Dalmasiër met die lyf van ’n Corgi laat regmaak nie.

Dus: ons benodig wette wat hierdie bose kringloop reguleer. Die Skotse politikus, Christine Grahame veg in Skotland vir ’n wet wat sterker beheer uitoefen oor troeteldiergesondheid, aanteling en verkoop van honde – asook die eienaarskap van ’n troeteldier!

Suid-Afrika het definitief ’n sterk hand van die gereg nodig om die troeteldierkrisis te bekamp. Optrede teen hondeweggooiers sal oningeligtes twee maal laat dink voor hul ’n dier kry!

Vir nou kan jy die wêreld hondjie vir hondjie red. Al gaan speel jy net bietjie saam met die honde en katte by ’n shelter, of skenk elke maand ’n sak kos – dit maak ’n groot verskil! Maak ’n hond/kat/hasie se dag: red ’n lewe en kry ’n fluffy vriend (eers as jy natuurlik jou somme gemaak het en trou sweer).

Onthou – dis tot die dood jul skei.

 

Bronne: humanesociety.org, bbc.com

Back To Top
%d bloggers like this: