skip to Main Content
Beskerm Jou Dier Teen Gif

Geen diereliefhebber wil hul dier met skuim om die bek sien nie – so hier is maniere om ’n onnodige hartebreek te voorkom!

Nes mense, is diere nuuskierig. Omdat hulle nie kan vra nie, ruik en proe hulle. Neem die volgende pro-aktiewe stappe en beskerm jou gedierte teen gruwelike gevolge van gif:

  1. Beide hond en kat wil instinktief die woonarea beveilig. Verseker dat die gif wat jy vir pestelensies buite sit onbereikbaar is en nie sekondêre gevolge inhou nie. Met ander woorde: beheer peste op ’n omgewingvriendelike wyse.
  2. Behalwe vir egte giwwe (soos rotgif en Two-step) is verskeie huishoudelike produkte óók gevaarlik. Sjokolade is dodelik – nie net vir jou dieet nie, maar vir honde ook. Skoonmaakmiddels moet weggebêre word.
  3. Al lyk jou tuin soos die paradys, moet die gifappeltjies uitgepluk word voor babawoef te smuls ondersoek instel. Affodilbolle, poinsettias, akkerboomblare en jasmyn val onder die lang lys van moenies.
  4. Produkte spesifiek gemaak vir katte kan nie op honde gebruik word nie en andersom. Dit maak net sin. So hou goudvissie ver van die vlooipoeier af.

Jy’t gedoen wat jy kan om jou tuiste te pet-proof. Maar, laatnag in die stikdonker gooi ’n vabond ’n stuk gedokterde vleis wat Temik of Aldicarb bevat oor jou heining. Dit blyk die laaste Avondmaal te wees. Algemene simptome van vergiftiging sluit in; braking, disoriëntasie, swakheid, bewerasies en stuiptrekkings.

Nes Mamma jou geleer het om nie lekkers by vreemdelinge te vat nie, is dit ’n bobaas idee om Boela te leer om poot te gee en nee-dankie te sê!

Maar hoe?

Leer jou hond om net kos te eet wat hy by jou kry. Hou by roetine. Kry ’n wagwoord en laat jou troeteldier eers ’n toertjie doen voor hy mag sit en eet.

Hou ’n lekkerny in jou hand. As jou hond naderkom, sê ‘los’. As hy luister, beloon hom. As vriende en vreemdes kom kuier span hulle in om jou te help met die opleiding. Leer jou hond om niks van die vloer af te eet nie. Gee sy kos altyd vir hom op die dieselfde plek, in sy eie bak. Hy mag niks eet as dit nie uit sy bak kom na jy die opdrag gegee het nie.

Niks is beter as ’n gedissiplineerde hond nie. Die regte opleiding kan jul albei se lewens red.

 

Back To Top
%d bloggers like this: