skip to Main Content
Spaar Só Vir Jou Troue

As jou ouers en aanstaande skoonouers jou volle troue betaal, is jy baie gelukkig. Maar baie paartjies moet, of wíl graag hul eie troue betaal.

Stel ’n gedetailleerde begroting op

Doen navorsing, vra baie vrae en kry al jou kwotasies in orde. Praat met iemand wat die trou-industrie goed ken en maak seker dat jy nie enige groot kostes uitlos nie. Daar word geskat dat Suid-Afrikaanse paartjies tussen R80 000 en R120 000 spandeer op ’n troue, met die wittebrood ingesluit.

Kry ’n spaarplan

Moenie té vinnig, té veel probeer wegsit nie. Probeer eerder kyk na jou maandelikse inkomstes en uitgawes en besluit van daar af watter vaste bedrag jy kan bekostig om te spaar. Jy kan eerder ’n kleiner hoeveelheid op ’n konstante basis wegsit as wat jy elke maand ’n ander bedrag (of glad nie) spaar.  

Besluit op ’n tydlyn

Wanneer jy op ’n troubegroting en spaarplan besluit het, kan jy die somme van daar af maak. Jy sal min of meer kan sien hoe lank jy moet spaar om seker te maak dat jou begroting klop. Indien die tydlyn te lank voel, kan jy altyd kyk na eksta inkomste.

Probeer so ver as moontlik om nié geld te leen by die bank nie. Indien daar geen ander uitweg is nie, kan jy altyd probeer om eers by ’n familielid geld te leen en probeer onderhandel vir ’n laer rentekoers.

SALE

Net soos wat ’n SALE bordjie jou aandag trek in die winkels, moet jy voordeel put uit spesiale trou-aanbiedinge. As jy ’n langerige tydlyn het, het jy definitief tyd om die kat uit die boom te kyk. Moenie die eerste, beste kwotasies aanvaar nie. Die kans is goed dat jy iewers nóg goedkoper gaan wegkom. Oorweeg ook ’n winter- of weeksdagtroue aangesien die kostes verbonde baie minder is.

Jou troue hoef nie peperduur te kos nie. Dink slim en spandeer spaarsamig. 

 

Krediet*

Fotograaf: Lana Human 

Modelle: Annique Borman en Christopher Grivas 

Grimeerkunstenaar: Lesya Nel 

Hare: Melinda Coetzee 

Venue: Warm Karoo 

Rok en pak: Stanley Baptiste

Back To Top
%d bloggers like this: