skip to Main Content

It is not love that kept our marriage together, but rather our marriage that kept our love together. -Unknown

Om ’n dag in die Kaap te begin, beteken reeds dis ’n goeie dag met mooi vooruitsigte. Al wat dit dan eintlik kan beter maak is ’n stunning troue tussen die wynlandgoed in Stellenbsoch. 

Fotograaf: Bronwyn Tod Photography en Sinjin Sullwald

Terwyl ons wag vir die bruid, ruik jy die alombekende reuk van fynbos. Nou en dan wapper ’n lui skoenlapper verby, en gaste (die bekendes en die gewones) klets oor en weer oor die natuurskoon van die plek waar ons onsself nou bevind. Bekendes soos Duane Vermeulen, Ox Nché en Sergeal Peterson is maar net ván Aidon Davis se rugby-vriende wat die geleentheid bygewoon het.

Die Engelse Pastoor doen ’n paar aankondigings en maak ’n paar grappies en net so is almal weer op hul gemak. Dis tyd! Die musiek verander skielik en Suné se twee strooimeisies stap in die paadjie af. Hulle lyk elegant en prentjiemooi.

Daar kom die bruid. Lang swart krulle tuimel oor haar kant-bedekte skouer en haar oë kyk af na haar blospienk Jimmy Choo’s. Dan kyk sy op. Sy sien haar bruidegom en ’n opgewonde, emosionele laggie ontsnap uit haar mond. Hy sien háár ook en ja, sowaar begin hy huil…

Die laatmiddagson maak goudgeel patrone oor Suné se spesiale Anél Botha rok, terwyl ons almal luister na die seremonie. Sy klou vas aan Aidon – haar amper-man.

Foto: Bronwyn Tod Photography en Sinjin Sullwald

SY SÊ

  1. Jy het twee trourokke gehad! Vertel ons meer?

Albei my trourokke was gemaak en ontwerp deur Anél Botha Couture. Sy het my matriekafskeidrok gemaak, en elke ander rok wat ek daarna gedra het. Sy was my eerste en enigste opsie. Die eerste rok was ’n formele rok met langmoue,  ’n lae hals aand die voorkant en ’n hoë nek. Ek het 22:00 die aand my ander rok aangetrek, hoofsaaklik sodat ek lekker kon dans. Die tweede rok was ’n informele kort rokkie met shimmery materiaal aan die bokant en volstruisvere aan die onderkant. Ek het sagte pienk Jimmy Choo’s bestel uit Londen wat steeds my gunsteling is!

  1. Wat het julle troue anders gemaak?

Ons het nie dankie-sê geskenkies vir ons gaste gegee nie, maar ons het die geld wat ons daarop sou spandeer aan CANSA geskenk. Dit is ’n organisasie wat baie na aan my en Aidon is. Ons het uitgereik na ons trouspan en hulle vertel van ons idee. Warrenstone Wedding en Bronwyn Tod Photography het toe ook ’n skenking gemaak. Sodoende het ons met ons spesiale dag ook ’n verskil probeer maak.

  1. Hoekom het julle op Cavalli as venue besluit?

Ons wou van die begin af ’n destination troue gehad het in Bali, maar met Aidon wat gereeld en vir lang tydperke toer saam met die Toyota Cheetahs, het ons besef ons gaan dit nie kan doen nie. Ons wou steeds ons troue op só manier hou dat ons gaste kon wegbreuk vir ’n naweek en voel asof hulle ontsnap na ’n glansryke, spesiale affêre. Cavalli het soos ’n legkaartstukkie perfek by ons idees ingepas. Dit is modern, maar skep steeds ’n romantiese, elegante gevoel.

Die tema van die troue was swart met ’n titseltjie goud en die dress code vir gaste was streng formeel en swart. Ons het gekies om dit so te doen omdat ons ’n gesofistikeerde troue wou hê waar gaste mooi kon aantrek en voel of hul by ’n spesiale geleentheid is. Ons dekor en algemene troukleure was wit, swart en goud. Swart fringe-kandelaar-ringe en glas het perfek ingeskakel by Cavalli se marmer kroeg en glas argitektuur.

Foto: Bronwyn Tod Photography en Sinjin Sullwald

HY SÊ

  1. Met jou besige skedule was dit seker moeilik om ‘wedding planner’ ook te speel. Wat was jou verantwordelikhede?

 Om eerlik te wees het ek het baie min amptelike beplanning gedoen. Ek het help kies tussen troukoeke, kleurskemas en ook gehelp met die dekor. Suné en ons troukoördineerder Chelsea, van Warrenstone Weddings, het eintlik die meeste gedoen. Chelsea is regtig ongelooflik goed in wat sy doen en sy het die las van my en Suné se skouers afgehaal. Chelsea en haar span het ons droomdag in ’n werklikheid laat verander. Sy het ons die vryheid gegee om te kies wat ons wil hê en ook toegelaat om ’n hele paar keer die hele troutema te verander wanneer ons nuwe inspirasie gekry het.

  1. Jy en jou gevolg het baie spoggerig gelyk. Hoe het jou uitrusting byeengekom?

Eurosuit het my en my twee strooijonkers se troupakke geborg. Hulle het ons baie kleur- en stylopsies gegee, maar omdat die kleurskema swart was, het ons besluit om te hou by klassieke swart troupakke. My troupak het ’n donkergrys onderbaadjie gehad en ek het ’n strikdas gedra. My strooijonkers het gewone swart pakke, wit hemde en swart dasse aan gehad.  My bykomstighede het slegs my Tag Heuer horlosie ingesluit, wat perfek by alles anders gepas het.

  1. Waar gaan julle twee newlyweds honeymoon?

Ons kan ongelukkig eers Desember honeymoon hou omdat ek tans besig is met voorseisoen oefening by die Cheetahs vir die Currie Cup. Desember gaan ons vir twee weke honeymoon hou in Singapore en Bali. Ons is baie opgewonde en is tans besig met al die beplanning en besprekings.

 

DIE TROUSPAN

Venue: Cavalli Estate

Troubeplanner: Chelsea Warrenstone van Warrenstone Weddings

Blomme: Nconcepts and Designs

Dekor: Nconcepts and Designs

Skryfbehoeftes: Natasha Warrenstone en Blooming Wonderful

Fotograaf: Bronwyn Tod Photography en Sinjin Sullwald

Videograwe: Top Billing

DJ: DJ Ricky

Koek: Delana’s Cakes

Vermaak: David Derman

Hare: Corlé Barnard

Grimering: Corlé Barnard

Trourok: Anél Botha Couture

Pakke: Eurosuit

 

 

 

Back To Top
%d bloggers like this: